Nu00e9t vier psigiaters vir staatsdiens
Nu00e9t vier psigiaters vir staatsdiens

Nét vier psigiaters vir staatsdiens

Weerlose mense met geestesongesteldhede is selfs kwesbaarder vir Covid-19.
Denver Kisting
Denver Kisting – Volgens 'n psigiater verbonde aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Hilen Ndjaba, is daar net vier van dié spesialisdokters in die diens van die staat.

Boonop, sê me. Jowie Theofelus, die hoof- maatskaplike werker in dié ministerie, is daar net nagenoeg 300 geregistreerde maatskaplike werkers in die land om psigomaatskaplike steun aan Namibiërs te bied.

Omdat baie mense afgesonder is vanweë die regering se maatreëls om die verspreiding van Covid-19 te probeer hokslaan, is dit belangrik dat “ons dit normaliseer om hulp te soek”, sê mnr. Steven Harageib, 'n maatskaplike werker.

Volgens hom moet 'n mens dit altyd ernstig opneem wanneer mense te kenne gee dat hulle oorweeg om hul lewens te neem.

Wanneer iemand dié donker stadium bereik, moet 'n mens onmiddellik stappe doen om hulle te beveilig.

Dit sluit in om uit te reik na 'n maatskaplike werker, sielkundige of 'n hulplyn, sê Harageib.

Hy sê in akute omstandighede is dit dikwels nodig dat die persoon gehospitaliseer word.

Harageib sê 'n mens kan 'n besliste toename verwag in die aantal mense wat met posttraumatiese stres, depressie en angs gediagnoseer word.

Dit kan veral vererger word wanneer 'n gesin se enigste broodwinner hul werk verloor, sê hy.

Tot dusver het die impak van inperkings reeds ver­skeie nywerhede in duie laat stort en talle werkloos gelaat.

Mnr. Peter Boer, 'n toergids van Rehoboth, het gisteroggend in Republikein se aanlyn ontbytprogram vertel hy is reeds bykans nege maande sonder 'n inkomste.

Hy en baie van sy kollegas is aangewese op die hulp van familie en vriende, sê hy.

Ndjaba, Theofelus en Harageib het Maandag­aand deelgeneem aan 'n paneelbespreking op nasionale televisie (nbc) oor die belangrikheid van psigomaatskaplike steundienste te midde van die voortslepende impak van Covid-19.

Ndjaba sê mense wat stoei met geestesongesteldhede word in elk geval aan stigma onderwerp. Met die stigma wat kleef aan mense wat positief toets vir die pandemie, staar 'n dubbele stigma hul pasiënte in die gesig.

Sy sê van hul pasiënte sukkel eweneens om deurlopend en korrek 'n masker in die openbaar te dra. Van die maskers wat hul pasiënte wel dra, is dikwels vuil, sê sy.

Om sosiale afstand te handhaaf, is ook vir hulle 'n uitdaging, sê sy.

Boonop loop sommige pasiënte tans die gevaar dat hul geestesgesondheid 'n verdere knou kan kry omdat hulle nie geredelik toegang het tot medi­kasie wat hulle normaalweg vir hul toestande gebruik nie, sê sy.

'n Ander gevaar is dat bestanddele in medikasie wat wel beskikbaar is en voorgeskryf word, 'n negatiewe impak kan hê op pasiënte met wie se liggaam dié bestanddele nie werk nie, het sy gemaan. “Ons is in 'n dilemma.”

Theofelus sê ofskoon die maatreëls om die verdere verspreiding van Covid-19 te probeer stuit, sonder twyfel 'n impak op hul gemeenskapsuitreikprogramme gehad het, moet hul voortgaan met hul werk.

Hulle verleen ook rouberading aan mense wie se geliefdes weens die virus doodgaan, sê sy.

Daarnaas sien hulle ook om na die geesteswelstand van mense wat in kwarantyn of isolasie is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!