Nudo gee president groen lig
Nudo gee president groen lig

Nudo gee president groen lig

Namibië se eerste vroulike presidensiële kandidaat is meer as geskik om as adjunkminister te dien, sê haar party.
Denver Kisting
Denver Kisting – Mense wat reken die National Unity Democratic Organisation (Nudo) beplan om voortaan na die regering se pype te dans, sit die pot mis.

So sê die sekretaris-generaal van Nudo, mnr. Josef Kauandenge. “Ons sal so streng wees as ons kan. Ons sal met alternatiewe vorendag kom.”

Hul president, dr. Esther Muinjangue, sal uitgesproke bly oor kwessies soos die volksmoord en reparasies, sê Kauandenge. “Sy sal nie stilbly nie.”

Sy opmerkings kom nadat Muinjangue Sondag deur pres. Hage Geingob as adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste aangestel is.

Die party se nasionale voorsitter, mnr. Elia Kandjii, het gesê hulle verwelkom Muinjangue se aanstelling.

Kauandenge sê: “Sy dien nie in ’n Swapo-regering nie. Sy dien in ’n Namibiese regering. Nudo kan nie met geld omgekoop word nie.”

Boonop kan sy uittree as sy voel sy word in ’n hoek gedruk, sê hy.

“Ons deel in dieselfde koek van die onafhanklikheid van dié land.”

Kandjii het gister gesê Nudo is dankbaar vir Geingob wat hulle die geleentheid gee om “’n direkte mandaat in die uitvoering van staatsbeleid te hê”.

Volgens hom moet Namibiërs besef hoewel die staatshoof sy kabinet uit lede van die Nasionale Vergadering (NV) moet saamstel, vereis die Grondwet nêrens dat hy nét lede van die regerende party moet aanstel nie.

Hy maan mense moet eerder opvoeding bo middelmatigheid en afguns vier.

“Dr. Muinjangue is geen liggewig nie en het haar doktorsgraad verdien. Kom ons vier dit eers. Niks in haar karakter dui daarop dat sy met geld gekoop kan word om haar party se agenda en beginsels agterweë te laat nie – dit is nie in haar DNS nie.”

Die politieke ontleder mnr. Graham Hopwood het gister by navraag gesê hy voorsien spanning.

“Wat gebeur wanneer Nudo ’n ander standpunt as die regering het? Hoe sal dit op plaaslike en streekvlak werk as Muinjangue as partyleier teen Swapo veldtogte moet hê?”

Maar, sê hy, die reëling kan in die kort termyn vrugte afwerp “aangesien daar ’n behoefte is aan nasionale eenheid te midde Covid-19, en sy kan ’n belangrike rol speel om bewusmaking rondom die gevare van die virus te help skep”.

Muinjangue, ’n ouddosent in maatskaplike werk aan die Universiteit van Namibië (Unam), het in Desember haar doktorale verhandeling suksesvol aan die Universiteit Stellenbosch verdedig.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!