Nudo, UPM voeg stem by antikuberkraakkoor

Planne om die omstrede elektroniese stemtoestelle (EVM's) te probeer kuberkraak, is opnuut 'n hou toegedien.
Denver Kisting
Denver Kisting



Die president van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), me. Esther Muinjangue, sê hulle is nie onder die huidige omstandighede beskikbaar vir die kuberkraaktoets van elektroniese stemtoestelle (EVM's) nie.

“Die EVM's kan nie vertrou word nie; geen papierspoor nie.”

Sy sê indien die integriteit van dié toestelle bo verdenking was, sou die regerende party, Swapo, dit by hul kongresse gebruik het.

“Hoekom gebruik Swapo dit nie by hul kongres nie?”

Indien die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) nie die inligting wat hulle soek, verskaf nie gaan die United People's Movement (UPM) ook nie aan die kuberkraakoefening deelneem nie.

Volgens mnr. Jan van Wyk, visepresident van die UPM, sal hulle steeds die verrigtinge volgende week bywoon – maar net as waarnemers.

Die inligting wat hulle vereis, kan of wil die ECN glo nie verskaf nie, het Van Wyk die afgelope week by navraag gesê.

Dié opposisieleier sê hulle wil die stemproses van begin tot einde toets en die oefening nie tot die EVM's beperk nie.

“Die omvang van die oefening is derhalwe beperk, wat dit onmoont­lik sou maak om die stelsel te kuberkraak.”

Hy het mnr. Nico Smit, die tesourier-­generaal van die Popular Democratic Movement (PDM), gelyk gegee.

“Een kwessie waarna die ECN verwys het, is dat kopiereg aan die vervaardiger (van die EVM's) behoort en daarom kan inligting nie beskikbaar gestel word nie.”

Van Wyk sê die ECN wou hê ­opposisiepartye moet skriftelik aan die kuberkraakoefening onttrek.

“Die UPM het nie sodanige ­aanduiding gegee nie en sal dus ­beskikbaar wees mits die verlangde inligting verskaf word.”

Indien die inligting hulle nie bereik nie, sal hulle nie deelneem nie, sê hy.

Hulle gaan nie hul tyd mors deur 'n masjien te toets wat nie getoets kán word nie, het Smit die afgelope week volgehou.

Dit het aan die lig gekom opposisiepartye stel nie meer belang in 'n oefening waartydens EVM's aan kuberkrakery onderwerp sou word nie.

Die aanvanklike oefening sou op 18 Julie geskied het.

Nadat die eerste geleentheid uitgestel is, sou die volgende datum volgende Dinsdag wees.

Me. Sophia Shaningwa, Swapo se sekretaris-generaal, het nie op navrae in die verband gereageer nie.

Mnr. Theo Mujoro, die ECN se hoofverkiesingsbeampte, het gesê die verkiesingsliggaam sal 'n ­verklaring uitreik wat hul ­weergawe van die voortslepende onderonsie weerspieël.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer