Nugent aangestel om Jan Taks te bekyk
Oudregter Robert Nugent is aangestel om die kommissie van ondersoek na die probleme by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) te lei. Hy moet teen einde November sy finale verslag lewer.
Pres. Cyril Ramaphosa het dié aankondiging verlede Woensdag gedoen in sy toespraak in die begrotingsposdebat oor die presidensie.
Prof. Michael Katz, adv. Mabongi Masilo en Vuyo Kahla sal vir Nugent bystaan.
Katz is 'n belastingkundige en voorsitter van die regsfirma ENSafrica en was aan die stuur van die Katz-kommissie oor belastinghervorming. Masilo is lid van die Pretoriase balieraad en was voorheen 'n regspesialis by die SAID. Kahla is 'n topbestuurslid by Sasol.
Die kommissie van ondersoek is in Februarie in Ramaphosa se staatsrede aangekondig. Die doel van die ondersoek is om te verseker dat die SAID se geloofwaardigheid herstel word, asook sy vermoë om belastinginvorderingsteikens te haal.
Van die kwessies wat die kommissie sal ondersoek, sluit in die stappe wat die SAID in die afgelope twee jaar gedoen het om belastingtekorte te pak, insluitende bewerings van bonusse aan topbestuurders by SAID, en die weerhouding van BTW-terugbetalings aan gewone belastingbetalers.
Die kommissie moet ook kyk of SAID voldoen het aan administratiewe prosesse, en of “die afwyking van gevestigde prosedures sekere mense met politieke bande en mense met bande met topbestuurders by SAID onbillik bevoordeel het”.
Dit is deels 'n verwysing na bewerings dat Gupta-verwante maatskappye voorkeur gekry het met die terugbetaling van BTW.
Onder leiding van Tom Moyane, vorige kommissaris van SAID, het die instelling die afgelope jare onder erge kritiek deurgeloop weens swakker as verwagte belastinginvordering, probleme en vertragings met BTW-terugbetalings en bewerings van korrupsie teen topamptenare.
Die ondersoek is afsonderlik van die tugverhoor teen Moyane. Sy adjunk van die afgelope jare, Jonas Makwakwa, het in Maart bedank ná nuwe bewerings oor die verdagte kontantbetalings van meer as R1 miljoen wat hy oor 'n tydperk ontvang het van 'n maatskappy wat hy voorheen by SAID aangestel het om belastinginvordering te doen.
Ramaphosa sê die verwysingsraamwerk vir die kommissie se ondersoek sal binne die volgende paar dae in die Staatskoerant gepubliseer word.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie