Nugter en snaaks oor selfhelp
Helen Schöer
Eers moet ek bieg. Ek het ’n swakplek vir selfhelpboeke en -foefies en -tegnieke en -goeters en -produkte.
Davis sal sê dis omdat ek in Kaapstad gebore is, want volgens haar het Kapenaars in die besonder ’n aantrekking tot dié klas van ding. Dit het egter in die laerskool begin toe ons in Koekenaap gewoon het. Ek het met my sakgeld van daardie studiegidse bestel wat hulle altyd agter in Huisgenoot geadverteer het. Ek wou beter doen en die gidse het ’n kortpad beloof.
Davis se boek was dus so reg in my kraal: ’n Kortpad, want sy sou namens my ’n hele klomp selfhelpgoed op die proef stel; dan kon ek self besluit watter daarvan bollie is en watter daarvan my lewe gaan verander.
Davis verduidelik vroeg in die boek sy het drank gelos en dat haar nuwe nugter lewe die vertrekpunt is vir die hele selfverbeteringsoefening.
Dis dan ook wat die leser ontvang: ’n nugter kyk na ’n lukrake klompie selfhelpaktiwiteite: van psigedeliese sampioene tot reise terug na vorige lewens en sweetsessies tot ’n besoek aan ’n sangoma tot ’n gespreksgroepie wat net oor die dood praat.
Ek het nie eens geweet van dié goed bestaan nie – ai, die wêreld is ’n wonderlike plek en Davis is ’n meesleurende gids deur die plaaslike selfhelplandskap.
Sy is nie sinies nie, wel skepties, soos dit ’n goeie joernalis betaam. Sy is eerlik oor haar vooroordele en waar hulle in die kol is en waar iets haar verras het. Dikwels is haar tong ook ferm in haar kies. Plek-plek is sy baie ernstig, maar meestal is sy doodeenvoudig vrek snaaks, veral oor haarself. En oor Kapenaars. Alles met deernis gedoen, natuurlik.
Ek het die boek so baie geniet dat ek beslis Davis se vorige boek gaan opspoor. Best White and Other Anxious Delusions klink of dit vol van die soort humor kan wees wat deurspek is met ongemaklike waarhede. Dié vrou kyk fyn. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie