Nujoma ’n ‘revolusionêre leier’
Feesgangers by die voormalige staatspresident se verjaardag wil hê dit moet tot ’n nasionale vakansiedag verklaar word.
Kenya Kambowe - Namibië se stigterspresident Sam Nujoma het die afgelope naweek sy 89ste verjaardag in styl by die Etunda-nedersetting in die Omusatistreek gevier.
Feesgangers het gevoel 12 Mei, Nujoma se verjaardag, moet tot ’n amptelike vakansiedag verklaar word.
Duisende mense uit alle sfere van die samelewing, wat president Hage Geingob ingesluit het, het die feesvieringe bygewoon.
Geingob het Nujoma as ’n ikoniese, revolusionêre leier beskryf.
Mnr. Jacob Amutenya, ’n feesganger, het gesê: “Ek dink dit is tyd dat dié dag tot ’n openbare vakansiedag verklaar word. As Suid-Afrika ’n dag ter ere van wyle Nelson Mandela kan hê, kan ons ook. Die stigterspresident is een van hierdie land se uitstaande helde. Mense behoort ook nie elke jaar verlof te moet neem om dié belangrike dag te kan bywoon nie.”
Volgens Amutenya is hy beïndruk dat soveel mense van verskillende ouderdomsgroepe die feesvieringe bygewoon het.
Nog ’n feesganger, mnr. Thikameni Uugwanga, sê ’n openbare vakansiedag sal gepas wees om Nujoma te vereer vir die rol wat hy tydens die vryheidstryd en ook as Namibië se eerste president gespeel het.
“Dan sal ons dié dag en die doel daarvan met trots aan ons kinders kan verduidelik,” het hy gesê.
Die voormalige sekretaris van die Swapo-jeugliga (Spyl), mnr. Elijah Ngurare, het vertel hoe die Spyl die 12 Mei-beweging begin het om Nujoma se rol in die vryheidstryd te vier.
Dit was ’n geleentheid vir oorlogsveterane en ouers om die waarde van patriotisme, nasionalisme, harde werk en menslikheid aan hul kinders oor te dra, het hy gesê.
“Toe ons in 2012 begin het, wou ons verseker ons geslag, ek en jy, werk as nasionaliste op dieselfde manier saam as wat Hendrik Witbooi met Nehale lya Mpingana saamgewerk het, omdat die stryd dieselfde is,” het Ngurare gesê.
Volgens hom het die eerste vieringe van dié beweging op Swakopmund in die Erongostreek plaasgevind.
Die volgende fees, wat in 2013 by die Okatana-nedersetting in die Oshanastreek plaasgevind het, was egter meer suksesvol en is deur die voormalige staatspresident, mnr. Hifikepunye Pohamba, bygewoon.
Die jaar daarná het die Swapo-leierskap besluit om van die geleentheid, met Spyl se goedkeuring, ’n nasionale een te maak.
Vanjaar se feesvieringe is deur die Sam Nujoma-stigting in samewerking met lede van die sakegemeenskap aangebied.
Volgens mnr. Nahas Angula, die stigting se voorsitter, is die kantoor van Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, gekontak, maar was sy nie bereid om hulle te woord te staan nie.
“Jy sal onthou toe kameraad Ngurare met die 12 Mei-beweging vorendag gekom het, was sommige partylede nie daarmee geneë om die verjaardag te laat gaan nie. Dit is moontlik waarom ons nie enige reaksie van die party se sekretaris-generaal gekry het nie. Ons is egter gelukkig oor die positiewe manier waarop die publiek gereageer het. Daar was baie bydraes en dit was ’n sukses.
“Die stigting is trots daarop dat ons al hierdie mense byeen kon bring,” het Angula gesê.
Volgens Angula sal die verklaring van Nujoma se verjaardag tot ’n openbare vakansiedag waarde daartoe voeg.
“Vir nou is dit egter nie ’n vakansiedag nie,” het hy gesê.
Een van die sprekers Vrydagaand was die motiveringspreker mnr. Sam Shivute.
Volgens hom moet Namibiërs hul land se geskiedenis verstaan en kan dit nie gebeur sonder dat Nujoma se rol verduidelik word nie.
“Die feesvieringe is goed georganiseer en ’n mens kan werklik inspirasie daaruit put. Ons het geleer kultuur is die hoeksteen van wysheid en daarom moet ons ons oudstes betrek. Ons moet verenig wees. Slegs deur solidariteit sal ons ’n beter Namibië kan bou,” het Shivute gemaan.
Die Oshanastreek se sekretaris vir die Swapo-pioniersbeweging, mnr. Sisco Amunyela, het gesê Nujoma het dié beweging begin en dit aan die lewe gehou.
“Ons put ons inspirasie en aansporing uit die stigterspresident se leierskapvaardighede. Vandag het ons meer geleer oor wat hy meegemaak het om ’n Namibië te lei wat vir my en jou ’n vrye land is,” het hy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie