NUNW-leierskap betwis
NUNW-leierskap betwis

NUNW-leierskap betwis

President Kasuto weier om te gaan
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Swapo-geaffilieerde Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW) se leierskap word tans betwis.

Dit ná die vakbond se president, mnr. Ismael Kasuto, vandeesweek geweier het om van sy pos afstand te doen.

Volgens Kasuto was die naweek se vergadering van die sentrale uitvoerende komitee, waartydens hy geskors is, teen die vakbond se grondwet.

Na afloop van die vergadering is 'n ongetekende brief op die vakbond se briefhoof uitgereik waarvolgens die spesiale vergadering genoodsaak is deur wanbestuur van die NUNW, asook die president se onvermoë om die vakbond se doelwitte te bereik, strukturele vergaderings te hou en nasionale kongresbesluite toe te pas.

Kasuto word ook beskuldig daarvan dat hy verdeling aanhits wat deur stamvoorkeure gekenmerk word.

Ook het Kasuto daarin misluk om 'n hofsaak deur die geaffilieerde mynwerkersvakbond (MUN) teen die NUNW teen te staan of om 'n regsverteenwoordiger daarvoor te kry. Hy word van growwe nalatigheid beskuldig.

Volgens die brief was twee derdes van die komitee dit eens dat Kasuto uit sy pos verwyder moet word en dat hy hom as verteenwoordiger van die vakbond by enige organisasie moet ontrek. Hy het wel nog die reg om te appelleer.

Kasuto het Dinsdag sy eie verklaring uitgereik waarin hy sê die spesiale vergadering is deur NUNW se sekretaris- generaal, mnr. Job Muniaro, en sy ondersteuners uitgeroep.

Dít ten spyte van 'n gewone vergadering wat vir 16 September beplan is.

Volgens Kasuto het Muniaro sy uitnodiging na die vergadering in September gewysig en voorgegee die spesiale vergadering is nodig om op 'n brief van die MUN te reageer en om afgevaardigdes vir die komende Swapo-kongres te kies.

Kasuto sê die vergadering vas ongrondwetlik omdat affiliasiefooie nog nie betaal is nie.

Volgens hom is NAPWU (vir staatswerkers), NANTU (vir onderwysers), MANWU (vir werkers in die staalbedryf), NAMIU (vir musikante) en NATAU (vir werkers in die vervoerbedryf) se fooie uitstaande.

Volgens Kasuto is mnr. Albert Liswaniso se aanstelling in sy plek teen die grondwet omdat Liswaniso afgetree is.

“Dit is jammer 'n paar individue in die federasie het gekies om hul individuele belange te beskerm - veral deur die nie-openbaarmaking van die geaffilieerdes se boeke," het Kasuto gesê.

Met betrekking tot afgevaardigdes vir die Swapo-kongres het Kasuto verwys na Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, en gevra die regerende party moet tot ná 16 September vir die korrekte lys wag.

“Ek bly steeds die president van die NUNW,” skryf Kasuto in die verklaring.

Hy sê hy sal slegs van dié posisie afstand doen as die werkers hom op ’n geloofwaardige en grondwetlike wyse versoek om dit te doen.

Intussen het mnr. Sisa Namandje, ’n regsverteenwoordiger, volgens Nampa 'n ultimatum aan Kasuto gestel.

Volgens Namandje moet Kasuto sy kantoor onmiddellik ontruim.

Namandje het Kasuto ook gewaarsku enige optrede van hom namens die NUNW sal tot 'n dringende aansoek in die hooggeregshof lei.

“Ons sal volgende week 'n dringende aansoek om 'n interdik by die hooggeregshof indien, sou Kasuto nie onderneem om sy pos te verlaat nie," het Namandje in 'n skrywe gesê.

Kasuto sê hy sal die brief beantwoord omdat dit “deel van die sirkus is”.

“As hulle voel hulle wil my hof toe sleep, laat hulle my hof toe sleep," het hy aan Nampa gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!