NUST kry nuwe raad
Augetto Graig
Die Universiteit vir Wetenskap, Kuns en Tegnologie (NUST) se nuwe raadslede het Woensdag hul aanstellingsbriewe van die minister van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, ontvang.
Die minister het om verskoning gevra vir die vertraging met die aanstellings. Dit is volgens haar veroorsaak deur uitvoerige raadpleging om mense met die beste ervaring en vernuf te vind om die nuwe universiteit te lei.
Volgens die minister het die klem op die beleid van die universiteit na toegepaste navorsing en vernuwing verskuif. Kandjii-Murangi wil hê NUST moet met behulp van toegepaste navorsing oplossings vir uitdagings soos droogte, voedseltekorte, die behuisingsnood en die grondkwessie vind.
“Wat doen ons wetenskaplikes oor hierdie probleme?” het sy gevra.
“Ek wil nie sien ons nasionale navorsingsagenda word deur kenners van die buiteland gelei nie.” Volgens die minister benodig Namibië “nuwe, kritiese denkwyses om waarde toe te voeg”. “Julle universiteit is die een wat kan wys hoe ons vaardighede en potensiaal kan ontsluit,” het die minister aan die nuwe raadslede gesê.
Sy het gesê die nasie en die regering koester hoë verwagtinge vir die universiteit.
“Die nasie sien uit daarna dat NUST ’n indrukwekkende toonvenster vir toegepaste navorsing sal word.”
Sy wil hê die nuwe raad moet die voortou neem met die opstel van nuwe programme vir die ontwikkeling van vaardighede wat die Namibiese mark benodig.
Om hierdie doel te bereik, moet werknemers volgens die minister voortdurend verder ontwikkel word.
“Dit is kritiek vir ons om gereeld terugvoering oor beide uitdagings en prestasies te ontvang,” het sy gesê. Kandjii-Murangi het ook finansiële omsigtigheid aanbeveel.
“Dit is belangrik dat belastingbetalers waarde vir hul geld ontvang.”
Die minister wil nie hoë druipsyfers sien nie. “Strukture moet gereed wees om veral met maatskaplike uitdagings en teenspoed te help,” het sy gesê. Gegradueerdes moet volgens haar in diens geneem word en hiervoor moet sakeondernemings by leerplanne betrek word.
Die raad bestaan uit mnr. Markus von Jeney van die Ingenieursraad van Namibië, adv. Esi Schimming-Chase van die Prokureursorde van Namibië, me. Maureen Kambala van die Vereniging van Plaaslike Owerhede (ALAN), mnr. Michael Mutonga van die Nasionale Beplanningskommissie, mnr. Samuel Januarie van die Kamer van Mynwese en me. Marcy Situmbeko van die Namibiese Werkgewersfederasie (NEF). Ander lede is me. Kondjeni Nkandi, dr. Micheal Humavindu, mnr. Goms Manetti van die ouditeur-generaal se kantoor, me. Linda Aipinge van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie en mnr. Raimo Naanda.
Volgens Von Jeney werk die Ingenieursraad reeds saam met NUST om hul grade te ontwikkel sodat dit aan internasionale standaarde sal voldoen. “Ons streef nou na internasionale akkreditasie,” het hy gesê.
Schimming-Chase het die indiensneembaarheid van gegradueerdes as noodsaaklik bestempel. “Ons het ’n verantwoordelikheid om uitnemendheid te skep. Ek sal so maak,” het sy gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie