Nuut op die rak: Vier vars romans

'n Vars vlaag Engelse fiksie is nou in boekwinkels beskikbaar.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Nthikeng Mohlele se liefde vir musiek en kuns kom tot uiting in sy sesde roman, Illumination, waarin die karakter Bantubonke, ’n gevierde jazztrompetspeler, sy passie vir musiek uitleef (ten koste van sy huwelik en alles anders) en homself só tot op die rand van waansin dryf. Mohlele se vierde roman, Pleasure (2016), het die jaar waarin dit verskyn het die UJ-prys vir die beste Suid-Afrikaanse fiksiewerk in Engels gewen, en die jaar daarna die K. Sello Duiker Memorial-prys.Uitgewer: Picador Africa.

-----------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

Nthikeng Mohlele se liriese debuutnovelle, The Scent of Bliss, wat letterkundiges in 2008 laat regop sit, is pas heruitgegee. Dit bied ’n intieme blik op die lewe van die weeskind Q, wat sukkel met ’n angsversteuring en dan bedank as dosent in kreatiewe skryfwerk aan die University of Good Hope in die denkbeeldige stad Lumumbaville. Terwyl die werklose Q terugdink aan sy somber kinderjare, verdwyn sy swanger minnares, Bernice, sonder dat sy bevestig het dit is inderdaad sy kind wat sy dra. Terwyl Q na Bernice soek, ontdek hy nie net homself nie, maar ook ’n antwoord wat hom al jare ontwyk.Uitgewer: Kwela.

--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

In die Johannesburgse advokaat Gail Schimmel se vierde roman, The Accident, ploeter die hoofkarakter, Cathe­rine, soos ’n robot voort deur haar loopbaan en moederskap nadat ’n ongeluk 26 jaar gelede haar lewe geruïneer het. Haar volwasse dogter, Julia, smag na liefde, maar soek dit op al die verkeerde plekke en saai só verwoesting in die lewe van ander . . . Wat sal Catherine uit haar sluimerlewe laat ontwaak? In een van die voorbladblakers sê die skrywer Pamela Power aanhangers van Marian Keyes en Lisa Jewell sal gaande wees hieroor.Uitgewer: Macmillan.

--------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------------

In Ekow Duker se Yellowbone raak Karabo vanweë haar ligte vel in Mthatha groot met die spotnaam “Yellowbone”, maar besef glad nie haar ouers se voortdurende getwis gaan oor wie haar pa is nie. Toe sy ’n beurs kry om in Londen te studeer, kruis haar pad met dié van die vioolvirtuoos André Potgieter, wat self ’n ondenkbare geheim het.Uitgewer: Kwela. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer