Nuwe bedeling saai verwarring
Die nuut bygewerkte fase 3 om vir die volgende twee weke die verdere verspreiding van Covid-19 te stuit, het talle vrae laat ontstaan.
Denver Kisting – Teen gister het die nuutste regulasies wat tot 12 September van krag is om die verdere verspreiding van Covid-19 te keer, ewe veel vrae as antwoorde gelewer.
Van die tergende vrae sluit in hoe Windhoek ’n beperkte area bly, maar die Internasionale Lughawe Hosea Kutako sal vanaf môre oop vir internasionale toeriste wees. Bitter streng vereistes word nietemin aan sulke toeriste gestel (berig elders).
Hiernaas het talle Namibiërs die afgelope naweek veral in die sosiale media gewonder hoe onderrig van aangesig tot aangesig kan hervat ondanks die perk van tien mense per openbare saamtrek.
Nog ’n bron van onsekerheid hou verband met die aandklokreël wat oraloor die land om 20:00 tot 05:00 in werking tree, terwyl sommige tersiêre studente se lesings tot ná 20:00 duur.
Instellings van hoër onderwys – soos skole – hervat onderrig van aangesig tot aangesig.
Pres. Hage Geingob het Vrydagmiddag by Staatshuis aangekondig Namibië bly vir ’n verdere twee weke in fase 3 van die noodtoestandregulasies om die Covid-19-pandemie te probeer hokslaan.
Dié nuwe bedeling het gister in werking getree en sal op 12 September ten einde loop.
Die huidige ses maande lange noodtoestand geld tot 17 September.
VERLIGTING KOM VIR ERONGO
Geingob het voorts gesê Walvisbaai, Swakopmund en Arandis word nie meer as beperkte areas beskou nie.
Gevolglik mag mense sedert gister dié areas verlaat en besoek.
HOOFSTAD BLY TOE
Windhoek en die plaaslike owerhede van Rehoboth en Okahandja word steeds as beperkte areas beskou.
Dit beteken dié plekke mag net onder beperkte omstandighede binnegekom of verlaat word.
Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, het Saterdag by navraag gesê die land se grense bly steeds toe.
Maar, sê hy, ’n spesiale regime skop môre (Dinsdag) af wat ten doel het om die toerismebedryf uit die as te laat herrys.
Wat die skole betref, sê Shangula skole het maatreëls ge?mplementeer om by die regulasies te hou.
Eweneens, sê hy, die aandklokreël is geen nuwe verwikkeling nie omdat dit reeds langer as twee weke geld. “Noodsaaklike dienste word nie geraak nie. Selfs taxi’s doen besigheid. Wetstoepassers is met dié aangeleentheid gemoeid.”
STAATSHUIS EN MEDIA SIT WEER VAS
In wat allerweë as ’n skokwending beskou is, wou pres. Geingob Vrydagmiddag weet waar die mediaverteenwoordigers was.
Sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, het toe aangevoer daar was “konsensus” dat joernaliste nie die geleentheid fisiek sou bywoon nie.
In ’n kennisgewing Donderdag is die media ingelig vanweë die perk op die aantal mense wat by ’n openbare saamtrek toegelaat word, word joernaliste “aangemoedig” om die verrigtinge aanlyn te volg.
Pogings om voor en ná Vrydag se verrigtinge by Hengari klarigheid te bekom, het tot ’n grootskaalse WhatsApp-konsternasie tussen hom en joernaliste gelei.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie