Nuwe bek-en-klouseer-stam in Zambezi
Nuwe bek-en-klouseer-stam in Zambezi

Nuwe bek-en-klouseer-stam in Zambezi

’n Dodelike virusstam van bek-en-klouseer het moontlik vanaf Zambië na die Zambezistreek versprei.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe – Minstens 5 000 beeste in die Zambezistreek is met die serotipe-O-virusstam van bek-en-klouseer besmet, wat nog nooit tevore in Namibië aangemeld is nie en dodeliker as ander stamme is.

Die hoofveeartsenybeampte by die ministerie van landbou, water en bosbou, dr. Albertina Shilongo, het die nuus bevestig.

Sy sê die ministerie het probeer om die uitbreking van bek-en-klouseer wat in Junie in die Zambezistreek waargeneem is, te keer en het in die proses die serotipe-O-virusstam ontdek.

Shilongo sê hulle glo dié virusstam het Namibië vanaf Zambië binnegekom toe vee die grens onwettig oorgesteek het.

“Ons het ‘n nuwe stam van bek-en-klouseer, serotipe-O ontdek, wat nog nooit vantevore in Namibië waargeneem is nie. Ons het ‘n genotipe-ontleding gedoen en gevind die serotipe-O word geassosieer met ‘n tipe wat in Zambië voorkom.

“Ons vermoed die bron van die besmetting is vee wat die grens onwettig oorgesteek het,” het Shilongo gesê.

INENTING

Shilongo sê die ministerie wag nog vir entstof wat uit Botswana gestuur is.

“Ons wag op die serotipe-O-entstof wat vandeesweek van die Botswana Instituut vir Entstof moet kom. Sodra dit hier land, is ons spanne gereed om met inentings te begin,” het sy gesê.

Op die vraag oor wat die verskil is, het sy gesê serotipe-O is dodeliker, omdat dit baie blasie in die beeste se bekke veroorsaak, wat daartoe lei dat hulle van die honger vrek.

Shilongo sê vee wat onwettig oor grense beweeg bly ‘n uitdaging as dit kom by die uitwissing van bek-en-klouseer.

“Bek-en-klouseer sal voortgaan om ‘n uitdaging te wees solank die grens oopbly en mense dit kan oorsteek net wanneer hulle wil, omdat hulle nie van die grensposte gebruik maak nie,” het sy gesê.

“Dit bly ‘n groot uitdaging en dié bedreiging sal voortdurend van hierdie lande kom, al slaag ons ook daarin om die virus se verspreiding te keer en selfs aan ons kant uit te wis.

Terwyl die Zambezistreek tans erg onder die virus deurloop, het die ministerie die nodige stappe gedoen om seker te maak dit versprei nie ook na ander streke nie.

Die jongste uitbreking in Junie volg kort ná beperkings in April op die beweging van diere met gesplete hoewe binne die bek-en-klouseer-beskermde gebied gelig is.

Uitbrekings van bek-en-klouseer het nege kiesafdelings sedert September verlede jaar geraak.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer