Nuwe belastingkantoor vir maatskappye
Nuwe belastingkantoor vir maatskappye

Nuwe belastingkantoor vir maatskappye

Toegewese afdeling open deure in Julie
Andre le Roux
André le Roux – Die departement van binnelandse inkomste is besig om 'n spesiale kantoor vir maatskappye op te rig wat op grootskaal self en namens hul werknemers belasting betaal.
Die kantoor vir groot belastingbetalers (LTO) vorm deel van die ministerie van finansies se hervormingsprogram wat op die vernuwing van belastingadministrasie in die land gemik is. Hierdie hervorming sluit die aankoop van nuwe toerusting en organisatoriese herstrukturering in.
“Ons is besig om hierdie nuwe kantoor te skep, aangesien ons besef dat die belastingkwessies vir groot belastingbetalers van individuele belastingbetalers verskil en dit 'n hoër vlak van diens en oorsig behels,” het die permanente sekretaris van finansies, me. Ericah Shafudah, in 'n verklaring gesê.
Soos met ander belastingkantore wêreldwyd en veral in Namibië, sal die LTO vir alle funksies van belastingadministrasie vir sy spesifieke groep belastingbetalers verantwoordelik wees. Hierdie funksie behels belastingbetalerdienste, invordering en oudits.
“Die LTO sal aan groot belastingbetalers 'n uitgebreide reeks verbeterde dienste bied wat onder meer direkte toegang tot personeel insluit wat spesifiek opgelei is om maatskappye se besondere kwessies te hanteer.”
Shafudah sê sodra die ministerie se nuwe rekenaarstelsel geïmplementeer is, groot belastingbetalers hul opgawes elektronies sal kan indien. Tot dan kan hierdie groep belastingbetalers steeds by hul huidige belastingkantore betalings maak of direk met die LTO in verbinding tree.
Die toegewese LTO gaan na verwagting op 1 Julie sy deure open.
Die ministerie is die afgelope twee jaar op 'n intensiewe veldtog om nie net sy inkomstestrome te verbeter nie, maar ook die doeltreffendheid van belastinginvordering op te skerp.
In haar begrotingsrede het die minister van finansies, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, gesê 'n nuwe streekkantoor is verlede jaar op Katima Mulilo geopen, terwyl satellietstasies op Outapi, Tsumeb, Oranjemund en Mariental gevestig is.
Die ministerie gaan vanjaar en volgende jaar verdere satellietstasies op Gobabis, Swakopmund, Omaruru, Eenhana, Omuthiya, Khorixas en Lüderitz open.
Hierdie stasies het ten doel om dienste nader aan die belastingbetaler te bring.
Die satellietstasies sal vir belastingbetalers se opgawes en die betaling van belasting verantwoordelik wees.
In 'n poging om die Namibiese belastingomgewing meer doeltreffend te maak, het Kuugongelwa-Amadhila 'n taakspan aangestel om 'n nuwe inkomstediensagentskap te stig.
Die ministerie beplan om teen Maart 2016 die nuwe semi-outonome belastinginvorderingsagentskap op die been te bring.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!