Nuwe boek net oor slange

Die publikasie stel almal wat in die natuur, diere en slange belang stel, bekend aan die uiteenlopende en interessante slange van Namibië.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die boek My first book of Namibian snakes deur dr. Christo Buys en Francois Theart is nou in boekwinkels beskikbaar.

Die boek stel almal wat in die natuur, diere en slange belang stel, bekend aan die uiteenlopende en interessante slange van Namibië – van die dodelike mamba, die enorme luislang en die niegiftige eiervreter. My first book of Namibian snakes bevat al 46 slangspesies wat in Namibië voorkom met 240 foto's en inligting oor elke spesie.

Volgens Theart is dit die eerste boek oor slange wat die afgelope 38 jaar in Namibië gepubliseer is.

“In 1983 het dr. Buys en sy pa 'n boek oor die slange in die destydse Suidwes-Afrika uitgereik. Die boek is in 1990 weer gedruk, maar die keer as Namibiese slange. Boeke is gepubliseer oor reptiele wat slange insluit, maar nie boeke oor slegs slange nie,” het Theart gesê.

Hy en Buys het sowat drie jaar gelede met die uitgewer gaan sit en oor die behoefte van 'n nuwe boek gesels.

“Ons wou oorspronklik 'n boek vir kinders uitgee en het die eerste boek se formule behou. Die boek moes maklik verstaanbaar en in 'n eenvoudige taal wees met baie foto's – geskik vir jonk en oud. Ons het besluit om dit vir kinders te maak, maar ook vir enige volwassene wat iets van slange wil leer, hulle beter wil verstaan en wil identifiseer.

“Ons het baie foto's ingesluit, soos byvoorbeeld van die slang se kop of patroon op sy vel, sodat mense hulle maklik kan uitken.”

Volgens Theart is daar twee soorte mense in Namibië – diegene wat slange haat en niks van hulle wil weet nie, en diegene wat bietjie meer oopkop is en meer oor slange wil leer.

“Ons wil die bewaring van slange bevorder. Wanneer jy aan bewaring dink, dink almal aan renosters of ietermago's en vergeet van die kleiner diere. Hulle is egter ewe belangrik en speel 'n groot rol in die ekosisteem. Wanneer jy hulle uit die ekosisteem verwyder, val die sisteem inmekaar. Hoe meer inligting ons beskikbaar maak, hoe meer is mense gewillig om te leer en kan hulle leer ongeag of hulle van slange hou of nie. Die kennis kan op die ou einde 'n groot verskil maak.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!