Nuwe bootjies vaar weer na kammaland
Die Engelse praat van ’n pie in the sky. Waarmee ‘n wensdenkery bedoel word, want daai pasteitjie is nie eetbaar nie. Dis nie haalbaar nie.
In die boeretaal word weer van wens in die een hand en bollie in die ander gepraat. Kyk dan in watter hand is die meeste.
Net so terloops, taamlik boers, is daar ‘n ander woord vir daai bollie, maar dit het nie die skryftoets van die huishouding se taalsensor geslaag nie.
Dis goed soos drome wat nie bewaarheid word nie. Ewe waar is wel dat sonder drome niks bereik kan word nie.
‘n Bonus op die najaag van die onhaalbare is dat prestasies wel behaal word. Wie nie droom nie, kan nie leef nie.
‘n Hele paar pasteitjies het in ‘n loopbaan in die wolke gesweef, maar nooit naby genoeg vir ‘n vatslag nie. Veral van die kant van politici is daar nou weer sandkastele wat gebou word en staan totdat ‘n golf van die werklikheid dit platvee.
‘n Ganse uitbreiding word op Walvisbaai vir die opwekking of berging van krag beplan. Noem dit sommer ‘n PP vir Power Park.
Vir Wlotzkasbaken sweef ‘n tweede seewaterontsoutingsaanleg in die wolke. Die ganse Namib gaan glo blom met 300 000 hektaar wat met die ontsoute water besproei gaan word. ‘n Pypleiding gaan oor honderde kilometer gebou word om mens en dier se dors te les.
Pas op nou dat Botswana se mense nie ook met hul gabbatjies nader staan vir ‘n bietjie water nie. Giet, Piet! Usakos gaan ‘n grote bergingsaanleg vir brandstof kry. Glo nie verniet dat na die Erongoreeks as die olieberg verwys word nie. En hier suidwes van Walvisbaai word ‘n fosfaatmyn diep onder die see beplan. Nou as die see nie meer visse het nie, kan hy die mense seker ‘n ietsie anders owe.
Van die goed klink lekker. Vat nou maar die lushof waardeur van Hentiesbaai, Swakopmund en Walvisbaai Windhoek toe gery gaan word.
Is dit net vir ’n kuiertjie hoor ek al die versoeke op die selfoon, die rekenaar of sommer met ‘n SMS. Bring tog vir ons van die vars produkte op die roete saam. Sê maar ‘n paar groenmielies of ‘n druiwetros.
Olie bly een van die grootste pasteitjies in die hemelruim.
So ‘n droom het daai Scott- en Du Preez-kêrels ‘n swaar boor na ‘n punt noord van die Ugab-hek na die Skedelkus laat sleep. Die manne met hul visioene van miljoene het deur die jare heen van die skerms verdwyn, maar die reste van die ou boor staan nog daar as ‘n monument van drome. Dit dien nogtans ‘n doel as slaap- en broeiplek vir die voëls van die see en beskutting vir die woestynjakkalse wat sawends dwaal.
Nou weer ‘n brandstofdepot vir die ganse Namibië en van sy buurlande by Usakos. Brandstof en olie is broer en suster en Usakos is hoeka daarmee gepla. Seker so ‘n drie dekades gelede het Usakos die oorplaatjie van ‘n olieraffinadery gedra. Selfs die perseel is uitgewys waar dit sou kom. Die dag toe die hoekpaal ingedryf was waar die grote aanleg sou kom, was dit ‘n grote makietie met boordjiepakke in die Namibson.
Was mos self by toe oorle Chris Coetzee van Namibiese koerantaansien die pen later gaan uittrek het met sy snede: “Die mense mag nie so bedonner word nie.”
Dan was daar die storie van die olievonds in die Erongoberge doer in die sestigerjare van die vorige eeu. ‘n Bokwagter het glo in die berg daarop afgekom. Dit tap sommer so uit die rots. Selwers het hy ‘n Lion match op die taai stroom gepak wat stadig oor ‘n rotswand gedryf het.
En siedaar! Dit beweeg. Die politici het konsessies verklaar. Selwers is te voet op ‘n Desemberdag na die smeersel gaan soek. Sonbrand en voetseer was al wat oorgebly het.
Dis weer tyd vir beloftepolitiek.
Stemdag kom! Stemdag kom!

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie