Nuwe diamant-ooreenkomste in visier
Nuwe diamant-ooreenkomste in visier

Nuwe diamant-ooreenkomste in visier

Die ontluikende bedryf blyk volhoubare, gehalte werk te skep.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die huidige kontrakte tussen die Namibia Diamond Trading Company (NDTC) en nege slyp- en poleringsondernemings vir die verskaffing van ongeslypte diamante sal einde vanjaar verval.

Dié kontrakte is in Oktober 2016 ná die ondertekening van 'n 10 jaar lange Namibiese sorterings-, waarderings-, verkoops- en bemarkingsooreenkoms tussen die Namibiese regering en De Beers in Mei 2016 toegeken.

NDTC sê hy sou binne­kort met die proses begin om kliënte vir die nuwe kontrakperiode uit te soek, wat in Januarie 2021 afskop. Hierdie proses sal later vanjaar voltooi wees.

Nuwe aansoeke moet aan geskiktheidsvereistes voldoen, soos 'n geldige lisensie vir die slyp en poleer van diamante wat deur die ministerie van myne en energie uitgereik is.

Aansoekers moet ook toegang tot 'n ten volle operasionele slyp- en poleringsfasiliteit in Namibië hê.

Die NDTC sê ander bydraende faktore is etiese en finansiële vereistes, asook holistiese sterkpunte van elke onderneming, wat om die aanskaffing van ongeslypte diamante aansoek doen.

Dit gaan gepaard met 'n magdom bykomende inligting wat die NDTC toelaat om elke individue­le onderneming beter te verstaan, en hoe dit Namibië se vergoedingsverpligtinge en vermoëns ondersteun.

Mnr. Brent Eiseb, NDTC se uitvoerende hoof, sê die maatskappy het sedert 2016 meer as N$19 miljard se ongeslypte diamante verkoop om 'n volhoubare slyp- en poleringsektor te ontwikkel.

Die ongeslypte diamante wat verkoop is, behels ongeveer 85% van die ­dia­mante wat ­volhoubaar in die land geslyp en ­gepoleer word.

“Nie net het hierdie tot die skepping van 1 000 volhoubare, gehalte werksgeleenthede in die slyp- en poleringsbedryf gelei nie, maar dit het NDTC-kliënte toegelaat om in die waardevolle oordrag van vaardighede aan Namibiese burgers te belê,” sê Eiseb. Die kliënte is plaaslik geregistreer, maar word meestal deur oorsese filiale van tradisionele sny- en poleerondernemings besit.

Die huidige kliënte is Ankit Gems Namibia (Edms.) Bpk, Diacore Diamonds Namibia (Edms.) Bpk, Duiker Investment 142 (Edms.) Bpk (wat as Almod Diamonds Namibia handel dryf), DYS Diamond Manufacturers (Edms.) Bpk, JKD Namibia (Edms.) Bpk, KGK Diamonds Namibia (Edms.) Bpk, Schachter & Namdar Namibia (Edms.) Bpk en Trau Bros Diamonds Namibia (Edms.) Bpk.

Die verwagting is dat hul lisensies hernu sal word weens die beleggings wat hulle in die vestiging van die aanlegte gemaak het.

Hulle wou egter nie reageer op vrae oor die aandeelhouding of ­direkteurskappe in die maat­skappye en ander kwessies nie.



Politiek

Die slyp- en poleerbedryf is in omstredenheid gedompel oor bewerings van politieke invloed en bevoordeling, sowel as aandeelhouding van spesi­fieke individue.

'n Vertroulike oorsig oor die Namibiese diamantsektor in 2005 ontleed die toetrede van die ­Israeliese miljardêr mnr. Lev Leviev tot die bedryf, met die oënskynlike doel om die De Beers-groep, wat destyds die grootste speler in die Suider-­Afrikaanse streek was en die enigste uitvoerder van ruwe diamante, te onttroon.

In 2004 het Leviev LLD Diamonds Namibia in Windhoek geopen, wat toe as die grootste slyp- en poleringsfabriek in Afrika beskryf is.

Die NDTC het in 2007 vir die eerste keer verskaffingsooreenkomste met plaaslike vervaardigers aangegaan en toe aangekondig hulle sou in 2009 diamante ter waarde van N$2 miljard aan Namibiese kliënte beskikbaar maak.

LLD Diamonds het in daardie jaar 'n NDTC-kliënt geword, só ook 10 ander maatskappye, maar in 2012 het NDTC geweier om weens beweerde oortredings sy ­lisensie te hernu.

Swapo se beheermaat­skappy, Kalahari Hold­ings, word op die minis­terie van myne en energie se webwerf as 'n diamant­handelaar genoem, en sy oudvoorsitter, dr. Kalumbi Shangula, was ook 'n raadslid van Ankit Gems Namibia, wat 'n kliënt van die NDTC was.

Nu Diamonds, waarvan mnr. Zacky Nujoma, seun van stigterspresident dr. Sam Nujoma, 'n raadslid was, was ook een van die eerste maatskappye wat destyds 'n kliënt van die NDTC geword het.

Die maatskappy het in 2018 besluit om weens kommersiële oorwegings nie sy ooreenkoms met die NDTC te hernu nie.

Nog 'n Swapo-beguns­tigde was oudparlementslid mnr. Ralph Blaauw, wat 'n aandeelhouer geword het van die Israe­liese franchise Schachter & Nader, wat die Namibiese mark in 2007 betree het. Die Dinamo-groep, wat deur die oud-Swapo-politikus mnr. Helmut Angula besit word, het in 2008 saam met die Julius Klein Group, nóg 'n NDTC-­kliënt, 'n diamantvervaardigingsaanleg in Windhoek geopen. Sy dogter, Phillipine, is by die JKD-groep betrokke en dien op die Namibiese Diamantraad se direksie.

DYS Diamond Manufacturers is 'n gesament­like onderneming tussen Dalumi Diamonds, Yerushalmi Brothers en Sahar Atid Diamonds, wat drie groot diamantvervaardigingsondernemings is en ook elk 'n De Beers-­kliënt is. Dit het ook 'n vennootskap met die ­Namibiese maatskappy Reign Investments aangegaan, waarvan mnr. Frans Ndoroma 'n raadslid is.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!