Nuwe era vir dobbel en speel
Nuwe era vir dobbel en speel

Nuwe era vir dobbel en speel

Dani Booysen
Hoog tyd is dit lankal dat dobbellary behoorlik deur nuwe wetgewing beheer word.

Terselfdertyd gesels die ministerie van die omgewing en toerisme vanaf gister met die publiek oor beoogde regulasies vir wanneer die lank verwagte Loterywet van krag sal word. Die ministerie wil die proses binne ses maande afhandel.

Soos berig, gaan feitlik al wat leef en beef deur nuwe voorskrifte vir loterye en promosiekompetisies geraak word. Dit sluit in skole, kerke en elke organisasie of besigheid wat een of ander gelukspel bedryf. Selfs met ‘n basaar, dans, fondsinsamelingsete, sportgeleenthede en verwante soorte vermaak sal binne die letter van die nuwe wet en regulasies getrap moet word.

‘n Staatslotery en liefdadigheidsloterye, waarvoor die wet voorsien, kan belangrike verskille in opheffing, ontwikkeling en bystand maak. Bedrog en oëverblindery moet in die kiem gesmoor word, maar oorregulering en mikrobestuur kan ook nadele inhou. Hierbenewens skuil daar die koste van (nog) ‘n nuwe staatsonderneming . . .

Verskeie bykomende wetlike drempelbedrae sal byvoorbeeld deur die regulasies vasgestel word. Tog was die opkoms in Windhoek gister skraal.

Buiten om sulke inspraaksessies beter te adverteer, bestaan ‘n behoefte vir wetskrywers om lank vooraf in eenvoudige taal met die publiek oor beplande wetgewing te gesels. Sosialemediaplatforms is ideaal hiervoor.

So sê ander

20 Februarie 2019

Beeld sê

Die twee teenstrydige stemme waarmee die ANC oor sy e-tol-tameletjie praat, dra daartoe by dat die turksvy net al hoe groter word.

Die laaste paar jaar is vanuit die sentrale regering herhaaldelik genoem dat die omstrede e-tolprojek in Gauteng moet voortbestaan. Maar die Gautengse ANC raak al hoe benouder oor die kwessie. ’n Mens kan nie anders as om opportunisme te vermoed nie, want die party is met die naderende verkiesing in die moeilikheid in Gauteng.

Dit plaas die ANC in ’n ernstige knyptang. Enersyds gaan gekyk moet word hoe enige inkomste vervang word indien dit afgeskaf word. Of dit gaan maar net die las weer op ’n ander plek na vuisvoos landsburgers verskuif.

Boonop maak Sanral gereeld geluide dat dit tyd is om die e-tol-konsep uit te brei na ander dele van die land.

Die wysheid van Salomo gaan nodig wees om ’n goeie besluit te neem wat verligting vir verbruikers bring. Deur, soos die laaste tyd, geen besluit te neem nie gaan ook nie die situasie verbeter nie.

• BEELD (NETWERK24)

Kommentaar

Republikein 2025-03-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer