NUWE HONDA CR-V

Dis die SUV wat jy altyd wou hê.
Dirk Gallowitz- Eienaars van Honda motors sal met enkele uitsonderings na altyd weer ‘n Honda aanskaf. Dis soos ‘n goeie paar skoene wat lekker dra – jy laat hulle moeilik gaan en dan word daar gesoek na iets wat jou soortgelyke tevredenheid gaan gee.

Met die CR-V is dit ook so. Sedert Honda die mediumgrootte sportnuts in 1995 in Suid-Afrika bekend gestel het, het die stoftrapper ‘n immergroeiende gevolg van getroue ondersteuners versamel. In werklikeid was die CR-V die pionier van mediumgrootte SUV’s in Suid-Afrika.

Wêreldwyd het die uitgaande CR-V model sy gewildheid getoon met verkope van meer as 9 miljoen eenhede in 150 lande! Dit wil gedoen wees en maak die CR-V loshande die gewildste SUV in sy klas.

Meer as 20 jaar gelede was die SUV-segment weliswaar meer op bosbreek en klipklim gefokus, maar die hedendaagse kopers van es-joe-wees wil hul gesinne gerieflik in die week skool en werk toe karwei en dan naweke die toeristeaantreklikhede en eetplekke op wyn-en leefstylplase grondpadlangs gaan verken. Minder boendoe-bashing dus en meer lifestyle cruising.

Honda het daarom die nuwe CR-V, die vyfde generasie wat sopas plaaslik bekend gestel is, juis sodanig herontwerp en opgeknap om bestaande CR-V eienaars tevrede te hou, maar teselfdertyd ‘n nuwe teikenmark te lok.

Volgens Honda is die vyfde generasie CR-V op ‘n heel nuwe onderstel gebou. Die grootte, lengte, breedte en hoogte het egter grootliks dieselfde gebly, terwyl die asafstand effe gerek is. Wat interessant is, is dat Honda se witjasse dit reggekry het om die buitenste dimensies bykans onveranderd te laat, maar tog die binneruim te vergroot.

So byvoorbeeld is skouerruimte effe beter en die kniespasie vir die agterste passasiers het tot 65 mm gerek.

Honda, wat meesters is van verpakking, het die CR-V se laairuim vindingryk aangepas sodat as die tweede ry sitplekke platgevou is en die voorste sitplekke so ver moontlik vorentoe geskuif word, ‘n 1,8 m lange persoon uitgestrek op die agterste vloer kan lê!

Die baggasiegedeelte kan 522 l sluk en slaan jy die 60/40 verdeelbare agtersitplekke plat, kan jy 1 084 l se bagasie laai.

Buite het die voorkoms nie juis drasties verander nie en is die nuweling steeds onmiskenbaar CR-V. Die neus lyk forser met ‘n nuutontwerpte voorbuffer en lugskort, maar dit is die nuwe hooflighulse met LED-liggies (afhangend van watter model) wat treffend met die sierrooster integreer om die vooraansig meer modern te laat vertoon.

Ook die misligte het nou LED-lampe.

Groter wielboë, fris beskermingstroke wat die luginlaat voor, langsaan onder die deure en die agterkant se lugsnoer beklemtoon, bring ‘n meer sportiewe inslag na die CR-V se ontwerp.

Dit is egter die herontwerpte agterkant en agterste lighulse wat die nuwe model buitekant die meeste van die vorige model onderskei.

Binne is die verandering die opvallendste.

Die afwerking en materiale vertoon en voel deftiger. Alle instrumentasie is nou digitaal en die nuwe CRV kan tong in die kies seker as out of this world beskryf word!

Die voorpaneel het ‘n klassieke Honda-inslag en word gedomineer met ‘n groot raakskerm bo in die middel wat afloop na die middelkonsole met die rathefboom hoog en sentraal daarin geplaas. Die groot volkleur raakskerm werk heerlik gemaklik en intuïtief met groot icons wat duidelik leesbaar is. Alle instrumentasie is gemaklik binne bereik van die bestuurder geplaas.

Die middelkonsole strek verder laag na agter tussen die voorste sitplekke met bekerhouers en ‘n innoverende drielaag-bêrekassie hier onder die bestuurder se linkerelmboog.

Die kassie laat jou toe om met ‘n maklike verskuiwing van ‘n rakkie verskeie grootte houers (ek's oortuig dit kan selfs ‘n 2 l-plastiekbottel wegsteek) te kan bêre.

Uiteraard is daar verskeie houers wat prakties en innoverend strategies in die kajuit geplaas is.



Die dik stuurwiel wat met leer oorgetrek is, bied lekker vasvat en is net reg - groot genoeg om prakties te wees en terselfdertyd klein genoeg om sportief te vertoon - met ‘n reeks skakelaars om die klankstelsel/telefoon/spoedbeheer se funksies te kan beheer.

‘n Slimontwerpte gly-area laat jou toe om die klankvolume met jou linkerduim te beheer deur bloot daaroor te vee.

Koop jy die topmodel, kry jy twee 12 V-sokke, asook vier USB-konneksiepunte. Twee voor en twee agter sodat pa, ma, boet en sus hul elektroniese katoeters kan koppel en herlaai sonder om die ander te pla.

Die nuwe CR-V is te koop met twee enjinopsies: ‘n 2 l- petrol viersilinder normaal-geaspireerde kragbron en ‘n 1,5 turbo-aangejaagde viersilinder petrolenjin. Geen dieselopsie is in die reeks beskikbaar nie.

Aandrywing is via ‘n CVT- outomatiese ratkas na die voorwiele of deur al vier wiele afhangend van watter model gekies word.

Honda bied vier keuses van afwerkingsvlakke, naamlik Comfort, Elegance, Executive of Exclusive.

Eersgenoemde twee is slegs beskikbaar met voorwielaandrywing en kom toegerus met die 2 l-enjin, terwyl die Executive en Exclusive topmodelle met die 1,5 l turbo-enjin en viertrek toegerus word.

Die Exclusive weergawe word die beste toegerus en is gevolglik ook die duurste model van die reeks.

Die CVT-outokas is soortgelyk aan die ratkas wat in die nuwe Honda Civic gebruik word en is een van, indien nie dié beste ratkas in sy soort wat tans in SA beskikbaar is.

Die “oorskakelings” voel soos jou tipiese outomatiese ratkas, en kies jy die Sport-verstelling, kan jy die toere amper “vashou” soos dié van ‘n handrat!

Verrigting is verbasend lewendig en tydens ons bekendstellingsrit het ons in stormsterk wind deur twee Bolandse bergpasse gery met plek-plek skrikwekkende dwarswinde. Die CR-V se relatief groterige SUV-lyf het nooit gevoel of dit die enjins vashou nie, selfs nie die 2 l-model nie.

Die 1997 cc viersilinder-enjin lewer 113 kW en 189 Nm se piekkrag met ‘n amptelike verbruik van 7,3 l/100 km.

Die 2 l- 4x2 Comfort verkoop teen N$ 422,900 terwyl die 2.0 liter 4x2 in Elegance gewaad teen N$ 477,900 verhandel.

Die 1.5 turbo enjin lewer 140 kW en 240 Nm met die amptelike petrolverbruik wat aangegee word as 7,0 l/100 km en is beskikbaar in twee afwerkingsvlakke, naamlik Executive en Exclusive- beide met AWD viertrek. Die Executive kos N$584 900 en die vlagskip Exclusive sal jou N$626 900 kos.



Die vlagskip Exclusive model kom standaard met onder meer spesiale 18” sierwiele, ‘n elektriese agterklap met programmeerbare hoogteverstelling, asook ‘n banddruk monitor wat jou vroegtydig waarsku as daar skielik banddrukverlies is.

Die Exclusive kry ook standaard Honda se omvattende stel gevorderde bestuurderhulpstelsels (ADAS) wat aktief bydra om die bestuurder en insittendes veilig by hul bestemming te kry.

Dit stelsel beskik oor Honda Sensing wat onder meer insluit Collision Mitigation Braking (CMBS) met Forward Collision Warning (FCW), Road Departure Mitigation (RDM) met Lane Departure Warning (LDW), Aanpasbare spoedbeheer (ACC) met Laespoed-volgafstand (LSF), asook Lane Keeping Assist (LKAS).

Die nuwe Honda CR-V is ‘n heerlik luukse middelslag SUV wat alles bied om ‘n wenresep te wees en gaan verseker voortbou op sy voorganger se wêreldwye suksesverhaal.

Die 2017 Honda CR-V reeks kom standaard met ‘n vyfjaar/200 000 km-waarborg asook ‘n vyfjaar/90 000 km diensplan.

Ook ingesluit is ‘n driejaar AA-Padbystandpakket.

Dienste word elke 15 000 km geskeduleer vir die 2 l-modelle, terwyl die 1,5T-modelle elke 10 000 km gediens moet word. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!