Nuwe ID’s is reeds beskikbaar

Namibië reik nou aan landsburgers, houers van permanente verblyfpermitte en vlugtelinge meer moderne identiteitsdokumente uit.
Augetto Graig
Augetto Graig – President Hage Geingob was gister die eerste Namibiese burger om sy verbeterde identiteitsdokument (ID) te ontvang.

Die nuwe ID-kaarte maak voorsiening om landsburgers (blou), houers van permanente verblyfpermitte (pienk) en vlugtelinge (geel en groen) in die land amptelik te identifiseer.

Die eerste ID-kaarte word gratis uitgereik, terwyl ’n aansoeker sy hand in sy sak moet steek om ’n kaart te vervang. Inwoners word aangemoedig om vir die nuwe kaart aansoek te doen, en om talle onafgehaalde kaarte op te eis.

Die minister van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit, dr. Albert Kawana, het die elektroniese kaart aan Geingob oorhandig, saam met dié vir die eerste dame, me. Monica Geingos, in haar afwesigheid.

Die kaart kan deur middel van ’n rekenaarleesbare strokie en ’n QR-kode wat aan die plaaslik ontwikkelde nasionale elektroniese bevolkingsregistrasiestelsel gekoppel is, onmiddellik inligting oor die eienaar verskaf.

Die gebruik van vingerafdrukke word vervang en die nuwe kaarte is moeiliker om te vervals, volgens Kawana.

“Die biometriese stelsel vervang die verouderde vingerafdrukstelsel wat papier en ink benodig, nog ’n onnodige onkoste,” sê hy.

“Ek is bly die insluiting van die nuwe kenmerke van die ID-kaarte dra geen bykomende finansiële implikasies nie. Die bykomende kenmerke word by die ministerie, hier in Windhoek, gedruk. Die druk van ons kaarte behels nie die gebruik van ink nie, inteendeel sal lasergravure gebruik word,” sê hy.

Nog ’n voordeel van die kaarte is, “ons kan ons buurlande nader om die gebruik van dié kaarte as reisdokumente te oorweeg. Die ID-kaarte is versoenbaar met die spesifikasies van die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie (Icao). Die wêreld beweeg na elektroniese innovasie. Ek is bly om te sê Afrika beweeg ook saam met die wêreld,” het hy gesê.

Geingob het bygevoeg hy het reeds met die president van Botswana gepraat en hulle stem saam dat burgers van die twee lande identiteitsdokumente moet gebruik, eerder as paspoorte.

“Ons stel nou ID-kaarte voor om ons as Namibiërs te identifiseer, maar die hoop is jy sal dié dokument kan gebruik om na Botswana te gaan. Ons praat van Afrika-eenheid, eendag. Dat ons een vasteland kan hê, met een identiteit, maar ons is nog verdeeld. Die ID-kaarte is ’n begin, wat die vrye beweging van mense kan toelaat. Dis ’n kernelement van Afrika-eenheid, dat mense vrylik kan beweeg, mense en goedere,” het hy gesê.

“Dis hoekom vandag ’n belangrike dag is, die eerste babatree wat ons neem, om die nuwe identiteitsdokumente voor te stel, met verbeterde veiligheidsaspekte, soos die minister van veiligheid verduidelik het,” het Geingob gesê.

In sy toespraak het Kawana die Verenigde Nasies se doelwit van wettige identiteit vir almal, insluitend ’n geboortesertifikaat teen 2030 genoem.

“Tot elke persoon in Namibië nie ’n wettige identiteit het nie, is openbare vooruitgang nie vir almal ’n werklikheid nie,” het hy gesê.

Vordering is in dié opsig gemaak, soos aangedui deur ’n Namibië Statistiekeagentskap (NSA) opname in 2016 wat wys 87,8% Namibiërs het toe geboortesertifikate gehad, en 82,9% identiteitsdokumente.

“Ek is seker meer Namibiërs het nou geboortesertifikate en ID-kaarte,” het hy gesê.

Kawana sê Namibië het stelselmatig vanaf die ou identiteitsdokumentstelsel uit die 1970’s na die nasionale elektroniese bevolkingsregistrasiestelsel geskuif om inligting oor burgers van die wieg tot die graf te kan volg.

Elektroniese geboorte- en sterftekennisgewings is by gesondheidsinstansies ingestel, siviele registrasies is by hospitale gevestig en samewerking met polisie, gesondheidsowerhede en maatskaplike dienste om geboorteregistrasie, kinderregistrasie vir toelae en immunisasie op een plek te laat geskied, sê hy.

Skole en randgemeenskappe word ook spesifiek geteiken om meer burgers te registreer.
[email protected]
FOTO’s Augetto Graig
President Hage Geingob met sy nuwe verbeterde ID kaartjie, waarvoor burgers nou ook vir hul eie kan aansoek doen.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!