Nuwe jaar, nuwe dinge
Gerine Hoff – Elke begin van die jaar stel ek – soos miljoene ander mense regoor die wêreld – vir myself ’n lys nuwejaarsvoornemens op. En elke jaar (soos alle vorige jare) tref ons die tweede week van Januarie wanneer die meeste mense terug gaan werk toe, die kinders terug is by die skool en die gewone dagtake hervat, en al die blink planne vlieg by die venster uit.
Hoe op aarde is dit moontlik dat hierdie scenario homself elke jaar herhaal? En wat is dit met die begin van ’n nuwe jaar dat almal dink “hierdie is dié jaar wat ek my lewe gaan verander”?
Die jaar wat ek by die gym gaan aansluit en ten minste drie keer ’n week gaan oefen. Die jaar wat ek die 24 uur van elke dag goed gaan bestuur met genoeg tyd vir slaap, gesonder kos maak en minder wegneemetes gaan koop. Meer geduld met die kinders gaan hê en gaan probeer om geld te spaar. Die jaar wat ek gaan tyd maak vir daardie kursus wat ek al jare lank wou doen.
Vreemd dat hierdie planne altyd gemaak word terwyl jy met verlof is. Want sodra die realiteit weer sy kop uitsteek, is al hierdie planne iets van die vakansie-verlede – net soos jou onlangste salaris.
Hoekom is dit so dat sodra jy weer by kantoorure inval, daar skielik nie tyd is vir oefen, vir gesonde kosmaak, vir meer tyd om saam met vriende en familie te kuier nie? Dat daar altyd meer maand oor is as wat daar geld in jou rekening is?
Ons is vandag by die sesde dag van die nuwe jaar. My “to do” lysie raak al hoe langer en dit voel nie asof daar ’n einde in sig is nie. En ek het nog nie eens weer amptelik begin werk nie; die kinders is nog nie weer by die skool nie; en ek het nog nie klaar gelees aan al die boeke wat ek die afgelope maand wou lees nie.
Die enigste troos is dat ek in dieselfde bootjie is as miljoene ander mense.
Is daar ’n oplossing?
Blykbaar is een van die probleme dat mense uiteraard van gewoontes – goed of sleg – hou. Vandat ons opstaan en deur ons oggendroetines gaan, totdat ons ná aandroetines aan die slaap raak. Wetenskaplikes meen tot soveel as 95% van wat ons elke dag doen, is eintlik ’n gewoonte. Hulle sê ook dié gewoontes word “enkodeer” in ’n spesifieke deel van ons brein wat verantwoordelik is vir die vrystelling van die “goedvoel”-hormoon dopamien.
Hul antwoord is dus om jou brein te “herprogrammeer” om nuwe gewoontes te skep – iets wat blykbaar binne ’n kwessie van net twee weke kan gebeur. Hiervan kan ek regtig nie getuig nie. Probeer maar om minder sjokolade te eet of om te begin oefen. Dit vat véél meer as net 14 dae!
As jy vasberade genoeg is, is daar ook nou al heelwat apps wat jou kan help om nuwe gewoontes te kweek, al is dit een op ’n slag, soos om elke dag ’n vriendin te bel, of om te gaan stap, en daarna ’n blokkie af te merk. Kenners meen dis juis die afmerk van hierdie blokkie wat só bevredigend is dit sal hope dopamien vrystel, en kort voor lank het jy ’n nuwe gewoonte aangeleer.
Nou ja, soos elke jaar, hoop ons vir die beste.
Dalk is hierdie jaar dié jaar.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie