Nuwe Junior Nasionale Raad
Nuwe Junior Nasionale Raad

Nuwe Junior Nasionale Raad

Octavia Tsibes
Octavia Tsibes - Sowat 42 junior lede uit 14 streke het Windhoek toe gereis om die amptelike opening van 2017 se Junior Nasionale Raad by te woon.

Die Junior Nasionale Raad is 'n nasionale platform vir skoolgaande jeug om die kwessies wat vir hulle belangrik is, te bespreek. Dit sal ook as geleentheid dien vir hulle om voorspraak te maak vir die verandering wat hulle in die samelewing wil sien.

"Die visie, missie en waardes van die Junior Nasionale Raad is op die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind gebaseer, met spesifieke verwysing na artikel 12 wat verklaar dat jongmense die reg het om hul menings vrylik uit te spreek oor alle aangeleenthede wat hulle raak," het me. Margaret Mensah-Williams, voorsitter van die Nasionale Raad, gesê.

Mensah-Williams het verder gesê die 42 Junior Nasionale Raadslede moet hul streke verteenwoordig.

"Die Junior Nasionale Raad is deel van die Nasionale Raad se strategiese plan," het sy gesê.

Hul tema is "Die parlement betrek jeugperspektiewe op volhoubare ontwikkelingsdoelwitte".

Hierdie tema stem ooreen met dié van die parlement vir hierdie finansiële jaar.

Me. Daisry Mathias, presidensiële adviseur oor jeugsake en ondernemingsontwikkeling, was die hoofspreker by die Junior Nasionale Raad se eerste sessie.

"Namibië is 'n nasie met 'n gemiddelde ouderdom van 21 en 'n jeugbevolking wat 37% van ons totale bevolking verteenwoordig. Ons vertrou dus op hul volle deelname en bydrae om ons goeie planne te implementeer," het Mathias gesê.

Mathias het die nuwe junior lede aangemoedig om terug te keer na hul onderskeie streke en te dink aan moontlike maniere om verandering onder die nasie te teweeg te bring.

Mnr. Norman Ndeuyeeka, spreker van die kinderparlement, het 'n duidelike boodskap vir die nuwe lede gehad.

"Moenie jou geslag uitverkoop nie," het Ndeuyeeka gesê.

Hy het die lede aangemoedig om saam te werk en mekaar te respekteer.

"Verander jou denke en bly weg van stamgebonde praatjies," het hy gesê.

Hy het verder gesê dit is 'n groot verantwoordelikheid en dat die nuwe lede van die Junior Nasionale Raad hul studies en die werk van die nasie moet balanseer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer