Nuwe kabinet oorwegend positief ontvang
Dani Booysen en Jemima Beukes
Ontleders het gister verskeie pluimpies aan pres. Hage Geingob uitgedeel vir die wyse waarop hy sy nuwe kabinet saamgestel het.
Talle bestaande en nuwe uitdagings, geskep deur Covid-19, sal egter oorkom moet word.
Geingob het sy nuwe span by Staatshuis gewaarsku hy sal in sy tweede termyn nie skroom om dadelik van swak presteerders ontslae te raak nie. Eerlikheid, beginselvastheid, spoedige beleidstoepassing, goeie bestuur en koördinering moet volgens die staatshoof voorop staan.
Volgens mnr. Graham Hopwood, 'n politieke en ekonomiese ontleder en uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), speel vergoeding van lojaliteit en etniese balans egter steeds 'n rol – faktore wat bevoegdheid kan benadeel.
“Ek dink nie te veel trane sal val oor diegene wat die kabinet verlaat het nie,” sê Hopwood. “Die meeste van hulle was onbevoeg, het in die skaduwees van korrupsie beweeg of was duidelik ryp vir aftrede.”
Die inagneming van geslagsgelykheid en insluiting van jonger politici is volgens Hopwood positief. Hy sonder mee. Yvonne Dausab (justisie) en Emma Theofilus (adjunkminister van inligting en kommunikasietegnologie) in die verband uit.
Ekonomiese en gesondheidsbesluite gaan volgens Hopwood in lig van die corona-pandemie van kardinale belang wees. Mnr. Iipumbu Shiimi, nuwe minister van finansies, staan voor 'n groot toets om die siekte se impak te bestuur, sê hy.
Volgens Hopwood het dr. Kalumbi Shangula 'n “kalmerende” uitwerking by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste. Geingob het hom in die pos behou.
Die aanwysing van dr. Esther Muinjangue, Nudo se president, as Shangula se adjunk is volgens Hopwood 'n slim skuif. Sy is 'n deskundige in maatskaplike werk.
Indien 'n formele koalisie gevorm word, sal dit Swapo volgens Hopwood van 'n tweederdemeerderheid verseker.
Nudo hou vanoggend 'n nuuskonferensie oor die saak. Dit is onseker of die party van die aanwysing bewus was. Volgens Hopwood sal die aanstelling boemerang as Nudo vir Muinjangue onttrek.
Dr. Albert Kawana het na sy mening geen rekord van deursigtigheid nie en is daarom nie die aangewese persoon om die korrupsiekrisis in die visbedryf aan te spreek nie.
Hopwood is teleurgesteld dat mnr. Stanley Simaata (voorheen minister van inligting en kommunikasietegnologie) die deur gewys is ondanks goeie werk, hoewel dr. Peya Mushelenga volgens hom 'n goeie keuse is.
Hopwood reken me. Doreen Sioka het te min as minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn bereik en te veel omstrede uitsprake gemaak om haar heraanstelling te regverdig.
Veral nie, volgens Hopwood, gegewe die belang van die stryd teen geslagsgeweld.
Volgens prof. Henning Melber het die president sy reg om agt mense tot die Nasionale Vergadering te benoem uitstekend benut. Sodoende kon hy sy keuse van kabinetslede verbeter.
“Die president het die kans gebruik om vars bloed in die kabinet te spuit en vaardighede toe te voeg,” sê Melber. “Hy kon egter nie van alle dooie hout ontslae raak nie, ook weens interne kwessies in Swapo.”
Melber reken mnr. Utoni Nujoma het hom nog nooit as minister bewys nie.
'GOEIE PRAKTYK'
Die aanstelling van 'n minister uit die opposisie, soos in 1990 in twee poste gedoen is, is volgens Melber 'n goeie praktyk. Polarisering tussen partye het volgens hom egter sedert onafhanklikwording verhewig.
Muinjangue, wys hy uit, is uiters krities oor hoe die regering onderhandelinge met Duitsland hanteer oor vergoeding vir die destydse volksmoorde in die land.
Hulle sal die vuurvreter moet beheer, of probeer haar dalk koöpteer.
Mnr. Calle Schlettwein beskik volgens Melber oor al die vaardighede om landbou, water en die emosionele kwessie van grondhervorming te bestuur.
“Die insluiting van die jeug is 'n welkome stap,” sê Melber.
“President Geingob het sekere slim besluite geneem en ek hoop dit lewer goeie vrugte op.
“Baie in die kabinet verdien die voordeel van die twyfel.”
(Lees meer in Market Watch oor uitdagings vir die nuwe minister van finansies.) - [email protected]; [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie