Nuwe keiser vir Japan
Nuwe keiser vir Japan

Nuwe keiser vir Japan

Keiser Akihoto het die eerste Japanse monarg in 200 jaar geword om uit sy amp te abdikeer.
Ronelle Rademeyer
Japan se keiser Akihito het Dinsdag in sy laaste amptelike boodskap aan sy volgelinge sy hoop op ’n vreedsame toekoms uitgespreek.

Dit is die eerste keer in 200 jaar dat ‘n Japanse monarg uit die amp abdikeer.



Hy het hulle ook vir hul steun die afgelope drie dekades bedank.



Akihito (85) het in 2016 die eerste keer gesê hy wil abdikeer ten gunste van sy seun, kroonprins Naroehito, omdat dit vir hom weens sy ouderdom en sy gesondheid moeilik geword het om sy openbare pligte na te kom.



Hy het behandeling vir prostaatkanker ontvang en het ’n hartoperasie ondergaan.

Hy is die eerste keiser wat ingevolge Japan se naoorlogse grondwet geen politieke invloed gehad het nie.

Sy pa, keiser Hirohito, in wie se naam Japannese soldate in die Tweede Wêreldoorlog geveg het, is nog soos sy voorgangers as ’n lewendige god gesien. Nadat Japan in 1945 oorgegee het, het hy uit berou van sy goddelikheid afgesien.

Akihito het volgens tradisie gisteroggend eers sy voorouers en die Sjhinto-gode oor sy abdikasie meegedeel by verskeie heilige plekke in die koninklike paleis in Tokio. Hy het tradisionele drag daarvoor gedra.

Dit sluit die songodin, Amaterasoe Omikami, in van wie die 2 600 jaar lange koninklike gesin volgens die mitologie afstam, berig The Guardian.

Die Taiirei-Seiden-no-Gi – die hoofseremonie van die abdikasie van ’n keiser – het daarna in die Matsoe-no-Ma-staatsvertrek in die paleis plaasgevind.

Akihito en keiserin Mitsjiko – sy vrou van 60 jaar en die eerste burgerlike wat met ’n koninklike getroud is – het om 17:00 die vertrek binnegekom vir die seremonie van tien minute. Daar was slegs sowat 300 mense teenwoordig.

“Ek hoop, saam met die keiserin, uit my hart dat die nuwe Reiwa-tydperk wat more begin vreedsaam en vrugbaar sal wees. En ek bid vir vrede en geluk vir ons land en die mense van die wêreld,” het hy gesê.

Die keiser, toe in ’n Westerse pak klere geklee, het aan die einde van die seremonie die troon gegroet deur by die deur te buig en die vertrek alleen te verlaat.

Akihito se heerskappy is gekenmerk deur sy interaksie met siekes en mense wat deur rampe getref is. Dit het hom baie geliefd onder Japanners gemaak.

Hy het hom ook daarvoor beywer om vergifnis en begrip vir Japan se rol in die Tweede Wêreldoorlog te bepleit.

Sy seun, kroonprins Naroehito, het gister die troon bestyg.

Dit sal die nuwe koninklike era van Reiwa (pragtige harmonie) inlui. Naroehito (59) het in Brittanje aan die Oxford-Universiteit gestudeer en het kroonprins geword toe hy 28 was. Hy is in 1993 getroud met Masako Owada en hulle het ’n dogter, prinses Aiko. – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!