Nuwe klere, ketels kry weer plek in trollies
Nuwe klere, ketels kry weer plek in trollies

Nuwe klere, ketels kry weer plek in trollies

Kleinhandelverkope in die buurland het met 2,4% gestyg, wat dit die derde maand in ’n ry maak van jaargroei bo 2%.
Hanlie Stadler

Verbruikers koop weer klere, skoene, meubels, toestelle en selfs juweliersware. Nie baie meer nie, maar daar is tog tekens dat hulle weer meer as net basiese kosinkopies elke maand doen.

Verkope van klere en skoene was in Junie 4,8% hoër as ’n jaar gelede, meubels 5,2% hoër en verkope by “ander” kleinhandelaars 5,7% hoër, volgens die syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Woensdag uitgereik het. Dis die beste of naasbeste groeikoerse vir dié kategorieë vanjaar.

“Ander” kleinhandelaars is ’n breë kategorie wat boeke, juweliersware en tweedehandse goedere insluit.

Kleinhandelverkope het met 2,4% gestyg, wat dit die derde maand in ’n ry maak van jaargroei bo 2%.

Die syfers is vir Junie 2019 vergeleke met Junie 2018 en gemeet in konstante 2015-rand, ’n manier om die uitwerking van prysstygings te verwyder.

Verkope was in die tweede kwartaal van die jaar 1,1% meer as in die eerste kwartaal. Dié baie belangrike syfer is ’n tentatiewe aanduiding dat die land nié in die tweede kwartaal in ’n resessie verval het nie.

As die syfer geannualiseer word tot 4,4%, wys dit kleinhandelverkope sal ’n stewige positiewe bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) lewer, sê die FNB-ekonoom Siphamandla Mkhwanazi. In die eerste kwartaal was die groei -2,5%.

HOOGSTE GROEI NOG VANJAAR

Verbruikers se besteding verteenwoordig nagenoeg 60% van die land se BBP en kleinhandelverkope op sy beurt ’n groot hap daarvan.

In huidige randwaarde het kleinhandelverkope die afgelope jaar met 5% gestyg, wat die hoogste groei nóg vanjaar is.

Mkhwanazi sê dit bly kommerwekkend dat die verkoopsgroei vir die jaar tot dusver van 1,7%, minder as die helfte is van verlede jaar se 3,6%. Dit wys op die trae vraag. “Dit word ook getoon deur die volgehoue lae prysstygings, wat laer as verbruikersprysinflasie bly. Dit wys kleinhandelaars is nie in staat om prysstygings aan verbruikers oor te dra nie.

“Vraag word onderdruk deur volgehoue druk op verbruikers se besteebare inkomste, weens ’n swakker arbeidsmark en hoër inkomstebelasting.”

Die Investec-ekonoom Lara Hodes sê hoewel die syfers positief is, kom dit van ’n lae grondslag af. Die eerste kwartaal se groei was swak weens fase 4-beurtkrag en lae verbruikersvertroue.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes reken kleinhandelverkope sal vir die res van die jaar positief bly. “Die styging sal egter gedemp word deur verskeie dwarswinde wat verbruikers versigtig sal maak om aggressief op nie-noodsaaklike goedere en dienste te bestee.”

Swak wêreldgroei, die regering se swak fiskale posisie en voortslepende beleidsonsekerheid ondermyn beleggersvertroue, wat beteken maatskappye sal nie sommer uitbrei en meer mense aanstel - wat kleinhandelverkope kan help - nie.

“Huishoudings se geldsake sal boonop onder druk bly weens hoër geadministreerde pryse en streng leningskriteria.”

Geadministreerde pryse sluit krag, water en brandstofpryse in. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!