Nuwe leierskap vir Skietvereniging aangewys

Skietsport
Tielman van Lill
Die Namibiese Jaggeweerskietvereniging (NHRSA) het laas naweek sy jaarvergadering en jaareindfunksie by Heja Lodge oos van Windhoek aangebied, waar sy nuwe komitee aangewys is.

Ter nagedagtenis van Toeks Jansen, Harold Sax en Sven Ahrens – die drie lede wat die afgelope jaar aan die dood afgestaan is – is ''n ghongskiet in goeie gees gehou.

Saterdagoggend het met die jaarvergadering afgeskop waartydens die nuwe komitee vir 2017-''18 verkies is.

“Ons bedank graag vir Dirk Nesenberend vir sy insette, wat ná twee jaar as president van die NHRSA die leisels aan Pieter Vorster oorhandig. Ons spreek ook graag ons waardering uit teenoor Wittes Marais, Spyker Kruger, Tabbie Barnard en Lauren Nesenberend wat met lojaliteit en oorgawe op die uittredende komitee gedien het. Ons wens julle alle voorspoed vir die toekoms toe,” sê die NHRSA in ''n nuusverklaring.

Die oggend se ghongskiet is voorafgegaan met ''n minuut stilte asook ''n saluut van drie skote wat deur die deelnemers ter ere aan hul toegewyde, afgestorwe vriende afgevuur is.

“Hulle sal voorwaar by die NHRSA gemis word waar hulle van die begindae af diep spore getrap het. Die ghongskiet was in uitdagende winderige toestande uitgespook wat elke skut se vernuf tot die uiterste beproef het. Die ontmoeting met ou vriende en familie het deur en deur hiervoor vergoed. Op die ou end het Wathy van der Wath en Karola Woortman met die louere weggestap,” skryf die vereniging.

“Spesiale melding moet gemaak word van die vier junior skuts (almal onder 13 jaar oud) wat meegeding het. Dit is jong talent soos hulle wat die sport se dryfveer is en ons hoop terdeë om baie meer kinders in die toekoms te sien deelneem.”

Die NHRSA se jaar is gepas afgesluit met die jaareindfunksie waartydens die voorste presteerders vereer is. Die uittredende president, Dirk Nesenberend, het ''n kort afsluitingsboodskap gelewer asook ''n brief van Hasso Ahrens voorgelees wat ter ere van Sven Ahrens geskryf is waarin hy bevestig hoeveel die NHRSA vir hom beteken het.

Vanaf volgende jaar sal jaarliks ''n veld­skietkompetisie ter ere van Sven Ahrens aangebied word waar ''n spesiale wisseltrofee op die spel is wat sy pa Hasso Ahrens in Duitsland vir die byeenkoms sal laat maak.

Die nuwe president, Pieter Vorster, het kortliks die nuut verkose komitee se visie vir 2017 verwoord. Almal teenwoordig het saamgestem dat die NHRSA sy doelwitte vir die afgelope jaar bereik het, wat insluit die aanbieding van die Wêreldveldskietkampioenskap in Windhoek, asook die ledetal wat tot meer as 100 aangegroei het.

Agt van die Skietvereniging se lede is vir hul besondere prestasies en bydrae vanjaar vereer. Hulle is Maggie van Heerden (voorste ondersteuner), Johan (Joe) Wessels (mees lojale lid), Dirk Nesenberend (beste vordering, mans), Karola Woortman (beste vordering, vroue), Bothma Keyser (beste junior skut), Wathy van der Wath (beste algehele gemiddeld vir die jaar), Cornel van der Westhuizen (sportvrou van die jaar) enFrancois (Wors) Marais junior (sportman van die jaar).

Die nuut verkose komitee het ook van meet af voorgeneem om in die voetspore van hul voorgangers te volg en die sport tot selfs groter hoogtes in 2017 te neem.

Die nuwe komitee vir 2017-''18 is Pieter Vorster (president), Johan Wessels (visepresident), Karola Woortman (sekretaresse), Herman Meintjies (tesourier), Johan Wessels (rekordbeampte), Dirk Nesenberend (veiligheidsbeampte) en Mike Baartman (bemarking en skakelbeampte).

Weste streekverteenwoordigers: Rudolph van Heerden, Malcolm van Heerden en Len Smith.

Suide streekverteenwoordigers: Wathy van der Wath, Dirk Nesenberend en Karel Smith.

Sentraal verteenwoordigers: Francois Marais (Snr), Francois Marais junior.

Noorde streekverteenwoordigers: Jan Keyser, Sonni Basson.

“Die NHRSA wil hierdie geleentheid gebruik om al sy lede en borge vir hul getroue ondersteuning en toewyding te bedank wat gehelp het om veldskiet tot een van die grootste dissiplines van skietsport in Namibië te kon uitbou. Ons vertrou om almal weer in 2017 te sien en wens almal ''n geseënde Kerstyd toe,” sê die Vereniging se verklaring.

Kommentaar

Republikein 2025-01-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 31° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 16° | 34° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 14° | 30° Omaruru: 15° | 30° Windhoek: 16° | 29° Gobabis: 20° | 35° Henties Bay: 17° | 20° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 18° | 33° Mariental: 20° | 35° Keetmanshoop: 17° | 34° Aranos: 20° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 16° | 34° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 21° | 28° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 15° | 18° Maseru: 12° | 29° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 20° | 24° Maputo: 19° | 27° Windhoek: 16° | 29° Cape Town: 16° | 22° Durban: 17° | 23° Johannesburg: 15° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 18° | 29° Harare: 18° | 24° #REF! #REF!