Nuwe lewe vir bottels en bome

Twee entrepreneurs wou produkte verkoop wat 100% Namibies, handgemaak en uniek is.
Tanja Bause
Tanja Bause - Herwinning en hergebruik raak wêreldwyd al gewilder.

Ook in Namibië begin mense die waarde en noodsaaklikheid daarvan besef.

Die Namibia Craft Centre in Windhoek is ’n groot voorstander hiervan en verkoop Okupita-glase, wat van bierbottels gemaak is.

Okupita beteken sonsopkoms in Herero en die glase is handgemaak en 100% Namibies.

Veral die Windhoek Draught-glase is gewild onder toeriste omdat die etiket behou word en hulle dus kan spog met bierglase waarop die naam staan van die stad wat hulle besoek het. Die glase is van groen bierbottels gemaak.

Aan die stuur van dié glase is me. Maily Kahuna.

Sy en haar vennoot, mnr. Christian Goltz, wou aanvanklik net vir hulself van die glase maak. Hulle het toe ’n glassnymasjien gekoop.

In September verlede jaar het hulle die geleentheid gekry om ‘n winkel by die Namibia Craft Centre oop te maak.

“Die sentrum se bestuur het ons drie dae gegee om die winkel op die been te kry. Dit was ’n groot skok, want ons het niks gehad nie - geen rakke of voorraad nie. Christian het rakke gemaak en ek het begin om glase te maak. Ons het betyds geopen en ons doen goed,” het Kahuna gesê.

“Ons het van die begin af besluit die items wat ons by ons winkel verkoop, moet 100% Namibies wees. Dit moet handgemaak en uniek wees. Ons wil nie massageproduseerde goed verkoop nie,” het sy gesê.

Om die glase te maak, is ’n proses wat baie werk vereis.

Die bottel word eers op die regte plek met ’n glassnyer gesny.

Dan word dit al langs die sny oor ’n brandende kers gehou.

Die sny word dan met ’n nat spons afgekoel.

Dié proses word herhaal tot die bottel op die sny in twee breek.

“Ek gebruik drie verskillende soorte skuurpapier en skuur die glas tot die sny glad is en nie meer kan seermaak nie. Die bottel se nek word aan die onderkant van die glas vasgeplak en dan is die glas klaar.”

Volgens Kahuna vloei die idees wanneer sy en Goltz koppe bymekaarsit.

“Christian maak ons snyborde van hout self en ons het besluit om muurhorlosies te maak. Die hout is baie mooi en ons dink dit kan gewild onder toeriste wees. Veral as ons dit ook 100% Namibies hou,” het sy gesê.

Volgens Kahuna is nie sy óf Goltz sakemense nie.

“Dit is alles baie nuut vir ons, maar ons is positief en glo dat as ons aanhou om handgemaakte Namibiese produkte te vervaardig, sal ons suksesvol wees,” het sy gesê.

Goltz gebruik vier verskillende soorte hout wat in Namibië voorkom vir sy snyborde.

“Ek gebruik kameeldoring-, dolf- en hardekoolhout wat beskermde bome is. Ek gebruik ook die prosopisboom, wat ’n indringerboom is. Die hardekoolboom is ook in baie kulture ’n heilige boom. Veral in die Herero-kultuur glo die mense die mensdom het uit die wortels van die boom ontstaan,” het Goltz gesê.

“Jy mag nooit ’n lewende boom afkap nie. Al wat ons doen, is om die dooie takke van ‘n boom te oes of om die hout by gelisensieerde verkopers te koop.”

Volgens hom is hout ’n natuurlike produk en hy gebruik net maroela- of !nara-olie om sy borde te olie.

Die borde moenie in water of in die son lê nie.

Hulle moet ná gebruik met ’n nat lappie afgevee word en van tyd tot tyd geolie word.

“My borde lyk nog soos ’n boom. Die tak word in skywe gesny en elke bord het sy eie natuurlike vorm. Nie een lyk soos die ander nie. Elke bord kry ook ’n reeksnommer sodat ek weet watter bord wanneer gemaak is. Dit is ook om aan die kliënt die versekering te gee dat dit nie massageproduseer is nie en elke bord individueel met die hand gemaak is,” het hy gesê.

Volgens Goltz het hy en Kahuna ’n paar van die borde in die winkel uitgestal en dit was binne dae uitverkoop.

“Ek is baie bly as ek ’n mooi bord kan maak wat iemand anders gelukkig maak, maar ek kan nie my borde eet nie, ons moet geld maak.”

Volgens hom wou hy soms tou opgooi, omdat die sny van die stam in skywe baie moeilik is. Veral hardekoolhout is baie hard en moeilik om te sny. Die skuur van die houtskywe was aanvanklik ook ’n uitdaging.

“Maar ek het nie moed opgegee nie en aanhou probeer en reggekom. Nou kan ek die borde maak en die rakke weer aanvul,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!