Nuwe lewe vir verlangliedjie
Nuwe lewe vir verlangliedjie

Nuwe lewe vir verlangliedjie

Lloyd Zandberg
“Sally Williams Nougat” is nie net die treffer wat die bekroonde liedjieskrywer, sanger, rubriekskrywer en digter, Jak de Priester, se musiekloopbaan 15 jaar gelede amptelik laat vlam vat het nie, maar ook ’n liedjie wat vir hom baie spesiale betekenis het.

Dis sy eie liefdesverhaal.

“Lank gelede het my meisie my aan Sally Williams Nougat by die Groenkloof Spar bekend gestel, nie ver van die tuinwoonstel waar ek destyds gewoon het nie. Ons het dit altyd gaan koop en geëet – ’n bietjie van ’n romantiese ding. Toe besluit sy om vir twee jaar Londen toe te gaan. Ek het baie Sally Williams in haar tas gepak. Daardie aand toe ons haar gaan groet by die lughawe was vir my erg. Ek het tuisgekom en die liedjie geskryf oor alles wat ons altyd saam gedoen het. Dis waaroor die liedjie handel. Dis ’n verlangliedjie,” verklap die Pretorianer oor sy eerste enkelsnit.

Nou, jare later en ter viering van Jak en sy vrou, Michelle (die meisie van wie hy in die liedjie sing), se tiende huweliksherdenking, is dié liefdesballade weer vrygestel, maar met ’n splinternuwe baadjie.

Dít met die hulp van die gewilde sanggroep ADAM.

“My stem het baie ontwikkel sedert ek 16 jaar gelede die lied vir die ATKV se Crescendo-kompetisie opgeneem het, maar dis moontlik een van die liedjies waarvoor ek onthou gaan word, en daarom het ek besluit om dit oor op te neem met ’n meer hedendaagse gevoel. Dit is ook my geskenk aan die meisie in die liedjie, saam met wie ek vanjaar ons tiende huweliksherdenking vier,” vertel Jak.

“Hugo Ludik en Vaughan Gardiner het die nuwe weergawe verwerk. Hugo is ’n lid van die groep ADAM. Soos wat ons dit opgeneem het, het ons net besef hoe mooi ’n klomp harmonieë sal werk op die nuwe weergawe en dis iets waarin dié groep spesialiseer. Soos wat dinge gevorder het, het ons agtergekom dit sal eintlik fantasties wees as hulle meer doen as net harmoniseer. Toe besluit ons om ADAM deel te maak van die liedjie.”

ADAM, wat bestaan uit Reynardt Hugo, Hugo Ludik en Kyle Grant, is een van die gewildste mansmusiekgroepe in die buurland.

Oor die geleentheid om saam met Jak de Priester aan die hervrystelling van sy grootste treffer te werk, sê Hugo: “Ons al drie het met hierdie liedjie grootgeword, wat ’n belangrike rol iewers in ons lewe gespeel het. Dis vir ons ’n baie groot eer om deel te kan wees van die nuwe vrystelling van een van die grootste liedjies in Afrikaanse geskiedenis. Jak wou ’n weergawe van ‘Sally Williams Nougat’ doen wat sou klink of dit vandag geskryf en vervaardig is – met die klanke en styl van hedendaagse popmusiek.

“Ons is baie opgewonde oor die klank, emosie en gevoel wat die nuwe weergawe gee en hoop dit skep weer nuwe belangstelling, veral onder die jonger geslag, in een van die grootste poptreffers van alle tye.”

Die groep se nuutste album, Bewe, is aan die begin van vanjaar vrygestel en baie goed ontvang. Hulle werk tans hard daaraan om te verseker hul musiek bereik soveel ore moontlik.



Jak de Priester en ADAM het die nuwe weergawe van ‘Sally Williams Nougat’ op 16 November reeds bekend gestel.

“Met die nuwe vrystelling hoop ek luisteraars sal die nostalgie van die ouer weergawe ervaar, maar ook die opwinding van dié nuutskepping geniet,” voeg Jak by.

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer