Nuwe mengsel op Loftus beproef

Die Bulle sal volslae gunstelinge wees, ondanks hul bloedneus laas naweek teen die Pumas.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Ses veranderinge is aan die beginspan van die Windhoek Draught Welwitschias aangebring vir hul tweede wedstryd in die SuperSport-uitdaagreeks, môre op Loftus Versfeld in Pretoria teen die Blou Bulle.

Afrigter Lyn Jones se manne sal streef om in elke faset heelwat skerper te wees as toe hulle laas naweek in Windhoek in die openingsrondte teen die Hino Valke verloor het (39-7).

'n Paar ligte beserings en die bestuur van sy spelersgroep met die oog op die tuiswedstryd teen die Goue Leeus op 5 Mei was van die faktore wat Jones en sy keurders in ag moes neem vir môre se grote op Loftus, wat as voorwedstryd vir die Superrugby-besoek deur die Highlanders dien.

Die flank en kaptein Rohan Kitshoff en heelagter Chrysander Botha is die twee mees ervare spelers wat dié week op die krukkelys is.

Agtsteman Leneve Damens kry kans om sy stempel as spanleier af te druk, met Max Katjijeko en die Kudus-nuweling Cameron Langenhoven (gewese Namibiese o.20-kaptein) wat die lostrio voltooi.

Die slot Denzil van Wyk in die beginspan en Mahepisa Tjeriko op die bank is rotering van hul rolle laas naweek.

Die Welwitschias stoot 'n heel nuwe agterste driehoek in die veld. Mahco Prinsloo begin as nr. 15 in Botha se plek, met David Philander en Tuna Amutenya (Trustco United) as die vleuels in die plekke van Gino Wilson en Janry du Toit.

Op losskakel kry PW Steenkamp sy eerste opdrafkans vanaf die beginfluitjie, terwyl Helarius Kisting gerus word.

Met Gerhard Lötter se kniebesering laas naweek en Niël van Vuuren ook nie vir môre beskikbaar nie, het die Welwitschias-bestuur besluit om die losvoorspeler Roderique Victor in die tweede haker te omskep.

Die byvoeging van JC Winkler (skrumskakel) asook die veelsydige gifpyl Johann Tromp op die bank verskaf vir Jones latere opsies.

• In 2017 se SuperSport-reeks was die wedstryd in Windhoek eerste gespeel, met die Blou Bulle oorwinnaars met 50-25.

Die wegwedstryd op Loftus het saamgeval met die nasionale span se vertrek na die Nasiesbeker in Uruguay en in die ontwrigte span moes destyds vyf groentjies vir dié vuurdoop nader geroep word. Die uiteinde was 'n pak slae met 92-7 (14 drieë teen een; rustyd 52-0).

Die Pretorianers sal sonder twyfel 'n ewe gemaklike sege verwag en 'n groot taak wag dus op die Namibiërs om hul stem vir langer tye dik te maak.

Windhoek Draught Welwitschias: 15 Mahco Prinsloo, 14 David Philander, 13 JC Greyling, 12 Darryl de la Harpe, 11 Tuna Amutenya, 10 PW Steenkamp, 9 Eugene Jantjies, 8 Leneve Damens (kapt), 7 Max Katjijeko, 6 Cameron Langenhoven, 5 Ruan Ludick, 4 Denzil van Wyk, 3 AJ de Klerk, 2 Obert Nortjé, 1 Desiderius Sethie.

Reserwes: Roderique Victor, Hans Breedt, Herman Grobler, Mahepisa Tjeriko, Adriaan Booysen, JC Winkler, Johann Tromp.

Die res van Lyn Jones se bestuurspan is Roger Thompson (verdedigingsafrigter), JP Nel (agterlyn-afrigter), Irvin Newman (spanbestuurder), dr. Aidan Fredericks (spandokter), Dominic le Roux (rehabilitasie-spesialis), Sergio de la Harpe (krag en kondisionering) en Sam Pickford (prestasie-ontleder).

Die Blou Bulle: 15 Earll Douwrie, 14 Duncan Matthews, 13 Erich Cronjé, 12 JT Jackson, 11 Andell Loubser, 10 Boeta Hamman, 9 André Warner, 8 Abongile Nonkontwana (kapt), 7 Adre Smit, 6 Shaun Adendorff, 5 Aston Fortuin, 4 Ruben van Heerden, 3 Madot Mbokela, 2 Corniel Els, 1 Matthys Basson.

Reserwes: Jan Henning Campher, Nqoba Mxoli, Marius Verwey, Kwezi Mafu, Lian du Toit, Tony Jantjies, Marnus Potgieter.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer