'Nuwe normaal' knipoog vir Namibië
Sakelui veral het gister 'n sug van verligting geslaak oor die verslapping van stappe om die verspreiding van Covid-19 te stuit.
Denver Kisting
Die ekonoom mnr. Mally Likukela sê 'n aanvullende stimuluspakket om die ekonomie uit die as te laat herrys, is dringend nodig.
“Die verslapping van sekere maatreëls is 'n welkome verwikkeling vir die sakesektor. Die verslapping alleen sal egter nie sommige besighede keer om in duie te stort nie, omdat die inperking 'n reuse- negatiewe impak op besighede gehad het,” sê hy.
Dr. Armid Azadeh, 'n algemene praktisyn en 'n kenner van openbare gesondheid, het gesê die regering verdien 'n pluimpie vir “dié dapper maar nodige beleidstap om ons land vorentoe te neem – sosiaal en ekonomies ondanks die geweldige druk wat die pandemie op die samelewing plaas.”
Die sosioloog dr. Ellison Tjirera gee nie vir Likukela en Azadeh gelyk nie.
“Hoewel verlengde inperkings negatiewe ekonomiese gevolge sal hê wat op die lang termyn onvolhoubaar sal wees, is dit verstommend dat inperkings verslap word terwyl die infeksies toeneem.”
Dít kom nadat pres. Hage Geingob gesê het die regering het besef volslae inperkings om die verspreiding van Covid-19 te probeer hokslaan, kniehalter besighede, huishoudings en mense se bestaan.
Boonop behoort die streke met die stygende aantal infeksies om te gaan, sê Geingob.
Die staatshoof het gistermiddag by Staatshuis die land toegespreek en aangekondig die Erongostreek sou gisteraand om middernag van fase 1 na fase 3 beweeg vir 'n tydperk van twee weke tot 6 Julie 2020.
Reis tussen dié streek en die res van die land is geoorloof behalwe die plaaslike owerhede van Walvisbaai, Swakopmund en Arandis.
Reis tussen dié drie plaaslike owerhede sal wel toegelaat word.
Leweransiers van noodsaaklike en kritieke dienste en goedere, insluitend vragmotorbestuurders, mag met 'n permit in en uit dié streek reis.
Van middernag gisteraand mag 50 mense by 'n saamtrek in Erongo wees, hoewel die perk van tien steeds vir Walvisbaai, Swakopmund en Arandis geld.
Kwesbare mense mag steeds van die huis af werk mits hulle 'n siektesertifikaat van hul dokter voorlê.
Tehuise vir bejaardes moet in isolasie bly, het die staatshoof gesê.
Volgens Geingob was dit tot dusver 'n moeilike taak om die red van lewens te balanseer met die instandhouding van die ekonomie.
“Soos ek herhaaldelik tydens 'n aantal geleenthede gesê het: Die lewens van Namibiërs is ons grootste prioriteit. Ons moet egter – in ons strewe om lewens vandag en môre te beskerm – ons ekonomie beskerm.”
Res van die land
Van 30 Junie tot 17 September sal die res van die land van fase 3 na fase 4 beweeg. Naas die invoer van goedere sal die landsgrense toebly tydens dié tydperk.
Tydens fase 4 mag 250 mense by 'n saamtrek wees – 200 meer as die huidige 50 in fase 3.
Ná fase 4 sal die land na verwagting na fase 5 beweeg wat die oopmaak van die landsgrense sal behels.
– [email protected]
Kassie: Toerisme
Toerisme:
Die regering sal in samewerking met die toerisme- en gasvryheidsbedryf 'n geteikende herlewingsinisiatief vir internasionale toerisme tussen 15 Julie en 15 Augustus uitvoer, het pres. Geigob gesê.
“Hierdie inisiatief sal 'n beperkte aantal toeriste van 'n gekeurde lae risiko-mark in konsultasie met die private sektor toelaat wat die potensiaal het om tot die toerismesektor by te dra wat meer as 100 000 Namibiërs werk gee,” het hy gesê.
Geingob het gesê die besonderhede sal in die volgende paar weke aangekondig word en dié toetslopie sal die voorbereidings vir die heropening van grense onder vlak 5 versterk.
Die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), me. Gitta Paetzold, het gesê die toerismesektor is verlig en verheug om vooruit te gaan, veral oor die toerisme-herstelprogram.
“Dat grense eers aan die einde van die noodtoestand – middel September - gaan oopmaak, klink nog te ver. Ten minste het ons nou 'n datum om mee te werk en daar is die moontlikheid van die toetslopie van gekeurde toeriste wat vir middel-Julie aangedui is. Ons is gretig om meer besonderhede daaroor te kry,” het Paetzold gesê.
Die president het gesê vanaf 30 Junie is alle Namibiërs en buitelanders wat die land inkom, onderhewig aan 'n Covid-19-toets en verpligte kwarantyn op eie onkoste.
Kassie: Onderwys
Onderwys:
• Aangesig tot aangesig-onderrig vir graad 11- en 12-leerlinge in die Erongostreek kan hervat.
• Aangesig tot aangesig-onderrig vir graad 11's en 12's, sowel as
graad 0- tot 3-leerlinge op Walvisbaai, Swakopmund en Arandis word vir twee weke tot 6 Julie uitgestel. Die terugkeer na 'normale klasse' sal deur die situasie in die betrokke dorpe bepaal word.
• Die hervat van aangesig tot aangesig-onderrig vir grade 0 tot 3 in al 14 streke van die land word vir twee weke tot 6 Julie uitgestel. Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sal vervolgens 'n nuwe skedule vrystel.
• Sou 'n leerling Covid-19-verwante simptome toon of positief vir die siekte toets, sal onderrig by die betrokke skool vir 14 dae opgeskort en kontakte onder kwarantyn geplaas word.
• Die terugkeer van leerlinge na skole is vrywillig.
• Ouers kan hul kinders tuis onderrig.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie