Nuwe ombudsman sit sy prioriteite uiteen

Die nuut aangestelde ombudsman, mnr. Basilius Dyakugha, sê hy hoop om op sy voorganger se goeie werk voort te bou.
Iréne-Mari van der Walt
Iréne-Mari van der Walt



Nadat adv. John Walters onlangs as ombudsman afgetree het, sê sy opvolger mnr. Basilius Dyakugha hy is opgewonde om die leisels oor te neem.

Dyakugha meen die taak om diskriminasie uit te wis en diegene in vergeleë gebiede van die land te bemagtig – wat Walters na aan die hart gelê het – is vir hom 'n prioriteit.

“Ek dink die mees kwesbare groepe is die gemarginaliseerde groepe in vergeleë gebiede van die land, omdat daar nie 'n kultuur is om griewe te lug nie. Ek dink ons moet hulle die geleentheid gun om te kan kla oor dít wat hulle raak,” sê Dyakugha.

Hy sê die publiek moet weet wanneer om die ombudsman met hul klagtes te nader.

“Die ombudsman is die laaste opsie. As individue 'n klag het oor die diens wat hulle ontvang het, moet hulle dit eers met die diensverskaffer opneem,” sê hy.

Dyakugha sê Namibië se natuur- en omgewingsbronne is belangrik om te beskerm, maar hy erken sy kantoor het tans nie die kapasiteit om die omstredenheid rondom ­ReconAfrica deeglik te ondersoek nie.

“Die ReconAfrica-kwessie is 'n baie tegniese saak. Gewoonlik as die natuur besoedel word, is dit opsigtelik, maar hier is die besoedeling van ondergrondse water betrokke. Ons kantoor het nie die kennis om so 'n saak te ondersoek nie en ons het ook nie die hulpbronne om tans 'n kenner aan te stel nie,” sê hy.

Dyakugha sê ook daar is nie 'n kantoor vir die ombudsman in die Kavangostreek nie.

“My voorganger het 'n goeie poging aangewend om streekkantore te vestig. Hy het dit reggekry om vyf streekkantore te begin, ten spyte van finansiële struikelblokke. Dit is wel nodig dat ons landswyd in elke groot dorp teenwoordig is, maar finansies bly 'n probleem,” sê hy.



DEURSIGTIGHEID

Dyakugha is die eerste amptenaar wat voor sy aanstelling 'n openbare onderhoud moes deurgaan.

Hy was een van drie kandidate saam met die Fishcor-raad se adjunkvoorsitter, me. Ruth Herunga, en mnr. Tousy Namiseb, die huidige sekretaris van die Nasionale Raad.

Sy voorganger adv. Walters is tevrede met die wyse waarop die nuwe ombudsman aangestel is.

“Dit was 'n baie deursigtige proses. Ek glo voortaan behoort openbare onderhoude ook vir poste soos regtersposte en uitvoerende hoofde gehou te word,” het hy vroeër vanjaar aan die media gesê.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!