Nuwe ontdekking by Prieska-myn
Nuwe ontdekking by Prieska-myn

Nuwe ontdekking by Prieska-myn

Francois Williams



Nuwe bronne wat vir koper en sink ontgin kan word, is naby die bestaande Prieska-myn ontdek, het die mynmaat­skappy Orion Minerals Maandag aangekondig.

Orion, wat op die JSE en die Australiese aandelebeurs in Sydney genoteer is, het in April vir 'n mynpermit in die omgewing aansoek gedoen en verwag dit sal teen die tweede kwartaal vanjaar toegeken word. Bouwerk aan die nuwe myn sal dan in die vierde kwartaal kan begin.

Dit gebeur nie sommer dat 'n junior mynmaatskappy soos Orion kan spog met 'n projek wat 'n minimum van tien jaar se produksie en kontantvloei kan lewer, tesame met 'n mineralehulpbron van 30,5 miljoen ton en verskeie eksplorasie-teikens om nog te ontgin nie, het Errol Smart, uitvoerende hoof van Orion Minerals, gesê.

Die aankondiging kom pas nadat pres. Cyril Ramaphosa vandeesweek aangekondig het dat 'n nuwe sinkmyn naby Aggeneys in die Noord-Kaap gaan open. Dit is 'n belegging van US$1 miljard deur die Amerikaanse ­mynmaatskappy Vedanta.

Dit kom ook te midde van uitsprake ten tyde van die onlangse Mynbou-indaba in Kaapstad dat Suid-Afrikaanse mynmaatskappye die afgelope dekades gans te min in eksplorasie vir nuwe mynbouhulpbronne belê het.

Die jongste ontdekkings volg op geofisiese opnames wat binne 'n radius van 15 km van die bestaande neerslae van koper en sink gedoen is.

Die Prieska-omgewing bevat een van die grootste ertsliggame van vulkaanagtige sulfiedneerslae wat bekend is in die wêreld, maar bykans geen eksplorasie is in die afgelope meer as 36 jaar in die omgewing rondom die neerslae gedoen nie, volgens Orion.

“Ons het nou indrukwekkende ­naby-myn-eksplorasiegeleenthede wat ons tesame met ons ontwikkelingstrategie sal navolg,” het Smart gesê.

Aanvanklike geologiese opnames is per helikopter gedoen deur magnetiese en ­elektromagnetiese opnames oor Orion se eksplorasiereg-gebiede te doen.

Van die bykomende teikens wat vir eksplorasie geïdentifiseer is, stem ooreen met soortgelyke bronne in die sogenaamde Fraser Range Belt in Wes-Australië wat die potensiaal het vir neerslae van verskeie ander basismetale, het Smart gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer