• Tuisblad
  • Afrika
  • Nuwe ooreenkoms bevorder dalk vleisuitvoere na Afrika
Nuwe ooreenkoms bevorder dalk vleisuitvoere na Afrika
Nuwe ooreenkoms bevorder dalk vleisuitvoere na Afrika

Nuwe ooreenkoms bevorder dalk vleisuitvoere na Afrika

Nigerië soek nie net Namibië se vleis nie, maar ook sy kundigheid oor die verwer­king daarvan.
NAMPA
Namibië se onder­tekening van die Vryehandels­gebiedooreenkoms vir die Afrika-vasteland (AfCFTA) kan die ideaal om meer vleis na dié gebied uit te voer, 'n hupstoot gee.

Pres. Hage Geingob het Saterdag met sy terugkeer vanaf Nigerië en Mauritanië waar hy die Afrika-­unie (AU) se beraad bygewoon het, gesê die veterinêre kordonheining (Rooilyn) moet ­verwyder word sodat Namibië ­maksimum voordeel uit die nuwe geleenthede kan put.

“Ons vleis is in ­aanvraag, maar ons het nie beesvleis nie. Ons praat net oor beesvleis, maar ons het nie genoeg beeste nie. Ons moet die Rooilyn ­verwyder sodat ons meer beesvleis het,” het Geingob by die Eros-lughawe aan joernaliste gesê.

Op 'n vraag oor of dit nie net by praatjies sal bly nie, het hy geantwoord die verwydering van die Rooilyn handel oor 'n ­belangrike kwessie.

“Dit handel oor die ­gesondheidsituasie; dit gaan oor ons ander markte.

“As ons nie na die ­situasie in Angola kyk nie. . . As die Angola-beeste nie behandel word nie, sal hulle siektes (na Namibië) bring, want die beeste beweeg vrylik (oor die grens). Maar dit is 'n kwessie waarna ons moet kyk,” het hy gesê.

Geingob het gesê die situasie rakende die Rooilyn kan nie 28 jaar ná onafhanklikwording voortduur sonder dat enigiets daaraan gedoen word nie. Die heining skei weens veterinêre redes die noordelike ­kommunale gebiede van die res van die land.

Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, het by dieselfde geleentheid gesê bilaterale samesprekings het reeds afgeskop ten einde 'n grensheining tussen Namibië en Angola op te rig.

“Die proses duur voort. Dit is reeds geruime tyd aan die gang. En natuurlik is 'n heining op die grens net een van die aspekte om die probleem te hanteer,” het die eerste minister gesê.

Geingob het bygevoeg dat die uitvoer van beesvleis en die kundigheid daaroor na Nigerië, een van die aspekte was wat in sy ­onderhandelinge met dié land se ­president, mnr. Muhammadu Buhari, ­bespreek is.

“Mense beskou ons as baie gevorderd in (die) vleis (-bedryf). Hulle vra selfs vir dienste en nie net vir vleis nie. Nigerië het gevra dat ons kundiges op die gebied van vleisverwerking daarheen stuur,” het hy gesê.

Op 'n vraag oor die ander ­kommoditeite wat Namibië ­ingevolge die nuwe ­handelsooreenkoms beoog om uit te voer, het die president geantwoord toerisme en verwerkte minerale soos diamante.

“Ons het vir hulle gesê Namibië is 'n boetiekland. Hulle moet kom kyk hoe goed georganiseerd dinge is.”

Geingob het na afloop van die AU-beraad 'n welwillendheidsbesoek aan Buhari in Nigerië gebring.

“Ek en pres. Buhari het goeie gesprekke gehad. Ons het sienings oor dieselfde probleme soos korrupsie en ­ongelykheid uitgeruil. . . Almal van hulle praat dieselfde taal oor ongelykheid. En jy kan nie ongelyke samelewing en durende vrede hê nie,” sê Geingob.

Hy het ook ­Saterdag die begrafnis van prof. Adebayo Adedeji (87) in Ogun in Nigerië bygewoon. Hy was 'n ­voormalige uitvoerende sekretaris van die Verenigde Nasies (VN) se Ekonomiese Kommissie vir Afrika. Daarbenewens het die president ook 'n simposium oor ekonomiese ontwikkeling in Afrika in ere van Adedeji bygewoon. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!