Nuwe parlementsgebou moet wag
Estelle de Bruyn
Parlementslede sal nog ’n wyle moet wag vir die oprigting van die nuwe parlementsgebou, wat na raming N$2,2 miljard sal kos.
Dit volg nadat ’n kabinetskomitee onder voorsitterskap van die visepresident, dr. Nickey Iyambo, aanbeveel het dat ná die afhandeling van die aanvanklike beplanning en lewensvatbaarheidstudie vir ’n nuwe gebou, eers halt geroep word. Wanneer dié fase voltooi is, sal weer oor die wenslikheid en bekostigbaarheid van die oprigting van ’n nuwe parlementsgebou besin word.
Die kabinetskomitee het, benewens Iyambo, ook uit die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, die speaker, prof. Peter Katjavivi en die ministers van werke en vervoer; presidensiële aangeleenthede; finansies; ekonomiese ontwikkeling en die direkteur van die Nasionale Beplanningskommissie; inligting en kommunikasietegnologie, die adjunkspeaker en adjunkvoorsitter van die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad bestaan.
Die minister van inligting en kommunikasietegnoglogie, mnr. Tjikero Tweya, het gister op ’n mediakonferensie gesê Iyambo het op ernstige kwessies soos voedselveiligheid, watertekorte, die droogte, armoede en vele ander uitdagings gewys en gesê dit moet in verband gebring word met die voorgestelde nuwe parlementsgebou.
Hierbenewens is die fluktuerende wisselkoers ’n bekommernis.
Hy het ook daarop gewys dat die voorgestelde nuwe parlementsgebou reeds 20 jaar beplan word, maar telkens weens ander nasionale prioriteite uitgestel is.
Die komitee het toegegee dat ’n behoefte aan ’n nuwe parlementsgebou wel bestaan, veral gegewe die vergrote aantal parlementslede en die toenemende instandhoudingskoste aan die gebou wat reeds meer as ’n 100 jaar oud is.
Tweya het daarop gewys dat die Kabinet op 24 Mei besluit het om die droogteverligtingsprogram met drie maande te verleng. Tydens vandeesweek se Kabinetsitting is ’n verslag ontvang waarin bevind is dat 595 839 mense voedseltekorte in die gesig staar. Dit bring mee dat 83 368,79 metrieke ton graan nodig is wat teen meer as N$300 miljoen aangeskaf moet word. Gevolglik is besluit om die droogtebystandsprogram tot Maart 2017 te verleng.
In die lig van hierdie toedrag van sake, het die Kabinet opdrag gegee dat stappe onmiddellik gedoen moet word om finansiële bronne te mobiliseer. Die huidige begroting word hersien om veral opnuut begrotingstoekennings aan kapitale projekte en die vul van vakatures in staatskantore, ministeries en agentskappe te heroorweeg.
Dit is teen hierdie agtergrond dat besluit is om die oprigting van ’n nuwe parlementsgebou op die lange baan te skuif.
Groot openbare ongelukkigheid en selfs ’n dreigende protesoptog om ’n petisie van die sogenaamde #June16-groep aan die speaker te oorhandig, het waarskynlik ook ’n bydrae tot politici se herbesinning oor die wenslikheid van ’n nuwe, luukse parlementsgebou gelewer.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie