Nuwe plan teen misdaad onthul
Die regering het besef daar is misdaadpatrone wat nóú aangespreek moet word voor dit handuit ruk, sê 'n kenner.
Denver Kisting
Rooftogte, veral gewapende rooftogte, het in die afgelope ses jaar met 44% die hoogte in geskiet.
Dié syfer is vervat in misdaadstatistieke van die afgelope agt jaar.
Dr. Johan Burger, navorsingskonsultant verbonde aan die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) in Suid-Afrika, sê dít dui op “toenemende betrokkenheid van georganiseerde misdaad”.
Dié tipe misdaad noodsaak “'n totaal ander benadering” om dit doeltreffend hok te slaan, het die kenner gister aan Republikein gesê.
Georganiseerde misdaad word gepleeg wanneer “mense (die) geleentheid sien om ryk te word uit misdaad”.
Burger werk sedert Januarie vanjaar nou saam met die Namibiese polisie aan 'n misdaadbestrydingstrategie in die land.
Samesprekings hiervoor het reeds in 2010 afgeskop en is verlede jaar goedgekeur.
Om agter die kap van die byl van plaaslike misdaad te kom, het Burger en sy span 13 vergaderings in al 14 streke belê, waarvan 'n gesamentlike een in die twee Kavangostreke gehou is. Volgens hom is dié samewerking 'n aanduiding van hoe ernstig die regering die situasie beskou.
“Die boodskap aan die gewone Namibiër is: Jul regering het die situasie in oënskou geneem, is bekommerd daaroor en spreek dit aan.”
Burger het gister gesê die ISS is genader nadat die regering besef het “die bestaande strategieë en beleid om misdaad te bekamp, lewer nie die resultate waarop hulle gehoop het nie”.
Burger sê hulle het uit die staanspoor besef “ons moet 'n klomp goed doen voor die skryf van die strategie”.
Onder meer moes hulle kyk na ander lande wat soortgelyke nasionale misdaadbestrydingstrategieë suksesvol in werking gestel het, soos Kanada, waar 'n misdaadvoorkomingsentrum goed werk.
Dit was ook duidelik dat verskeie sektore by die plan betrek moet word en nie net wetstoepassing nie, sê hy.
“Ons moes die situasie in Namibië behoorlik ontleed.”
Die vernaamste uitdaging – en dit is nie net eie aan Namibië nie, sê Burger – is dat misdaadstatistieke net aangemelde misdaad weerspieël.
Hiernaas word daar dikwels gebrekkig verslag oor misdaad gedoen.
Slagoffers van misdaad meld dit om verskeie redes nie aan nie, sê Burger.
Volgens hom is een van dié redes dat mense hul vertroue in die polisie verloor het, en hulle eerder tot nieregeringsorganisasies (NGO's) wend.
Dikwels is die geriewe by 'n polisiekantoor ook van so 'n aard dat verkragtingoorlewendes hul verklaring ten aanhore van lede van die publiek moet aflê, voeg Burger by.
Aan die ander kant, sê hy, word party misdade baie goed aangemeld.
“Moord, byvoorbeeld, word die beste aangemeld, omdat jy 'n liggaam het.”
Internasionaal word 50% van misdaad nie aangemeld nie, sê hy, en verwys daarna as 'n “donkersyfer”.
Dit is moeilik om Namibië se donkersyfer te peil, omdat geen liggaam bestaan wat hom hiervoor beywer nie.
Die enigste plaaslike statistieke is dít wat die polisie saamstel geskoei op aangemelde misdade.
“Namibië behoort ook te kyk na 'n stelsel soos dié in SA die afgelope 10 jaar.” In die buurland stel 'n NGO die donkersyfer saam.
Tydens die beraadslagings in die streke wou Burger en sy span by belanghebbendes weet wat die vernaamste misdade in hul streek is.
Hiernaas wou hulle weet wat die redes hiervoor volgens die gemeenskap is en wie dit moet oplos.
“Die diepte van die inligting wat daaruit gekom het, is ongelooflik.”
Talle mense was van mening die hoë vlakke van werkloosheid en armoede “skep 'n teelaarde vir ongesonde praktyke”.
Jongmense wend hulle dikwels ook weens moedeloosheid en verveling tot misdaad, sê hy.
'n Ander bydraende faktor is 'n gebrek aan vaardighede en opleiding, morele verval en afwesige ouers.
“Dit is absoluut verstommend hoe dit mense aan die dink gesit het.”
Burger sê baie van die voorgestelde oplossings het geen direkte verband met polisiewerk nie. “Daar moet na wetstoepassing gekyk word, maar die polisie kan nie werk skep en armoede verlig nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie