Nuwe planne vir 'n ou, ou vesting
WILLEM DE WET SKRYF:
Kêrels, die onbevoegdheid en verval is besig om ons te oorval.
Ek woon die naweek 'n skole boogskietkompetisie by op Vegkop en ek het redelik tyd op hande tussen die “shoots”. Ek stap daar rond en bekyk eerstens die ontwikkeling by my ou Alma Mater WHS en ek is trots, en toe aanskou ek die absolute verval van 'n eens landmerkgebou, die Alte Feste, en so ook die verval wat plaasvind om die nuwe Independence-museum.
By WHS is daar fiere, regop heinings met astroturfbane binne en skoon terreine met gesnyde gras en onderhoude geboue, netjiese sportvelde en skoon badkamers.
Waar die Founding Father staan, is daar onkruid en die grasperke is in maande nie gesny nie. Dit lê besaai van die rommel en die nuwe museum wat die stryd en stryders se trots moet wees, is ook besig om vaal te word so tussen die verval en agteruitgang.
Die Alte Feste is in 'n haglike toestand, soos baie van die land se besienswaardighede. Die vensters is stukkend of waai in die wind rond. Die plek kort ernstige dakwerk en skree vir 'n verfkwas. Die Alte Feste doen afbreuk aan die trotse geboue rondom dit en dit hoef nie so te wees nie.
Geskiedenis is geskiedenis en al maak ons wat, ons kan dit nie verander of weg wens nie, so gee dit 'n plek en maak dit mooi, sodat ook huidige leiers met trots mense deur die geskiedenis kan vat en hulle wys waar ons was, hoe ons gestruggle het en waar ons nou is.
Om die geskiedenis en die infrastruktuur wat uit die geskiedenis kom te ontken en misken, dui nie op oorwinning nie. Ons behoort verby selfbeeld issues en kleinlike politiek te wees na 30 jaar.
IN GHANA . . .
My vrou was 'n rukkie terug in Akkra saam met haar suster wat navorsingstuk vir die SA regering moes doen oor hoe om ou geboue en geskiedenis te hanteer. Hulle twee gaan soek toe geskiedenis en geboue wat 'n mens dink ons eerder sou wou vergeet.
Akkra was 'n slawehandelmekka op sy tyd en daar staan die grote Elmina-kasteel wat 'n slawehandelstasie was steeds en die plek van waar die slawe op bote gelaai en verskeep is na hul kopers se standplase.
Mens sou dink die plek moes lankal afgebrand en vernietig gewees het, maar die Akkrane het die plek ware monumentstatus gegee en derduisende mense kom jaarliks na Akkra om hul oë op die deel van die mens se verlede te slaan.
Dit is vir vele met 'n slaweherkoms en wortels uit Afrika amper 'n pelgrimstog wat met soveel emosie aangepak word, om hul verlede beter te ken en die onbeantwoorde vrae uit die kop te haal. Die wat uit die sogenaamde ander kamp kom, reis ook hierheen: om ook antwoorde oor hul verlede te kry en met nuwe insig die hoekoms, waaroms en wat te verstaan.
Daar is 13 sulke kastele in Akkra alleen wat deur die regering bewaar en bestuur word. Hulle maak jaarliks miljoene uit hierdie geskiedenis. Hulle is nie skaam daaroor of konfrontasioneel nie, nee, dit is die geskiedenis en dit was “real”.
Ek was ook al op Robbeneiland. Hoewel my maag en 'n boot nie vriende is nie wou ek weet. En ek het antwoorde gekry.
Alles op die eiland was skoon en versorg en die uitbeelding van die geskiedenis was feitlik en onkonfrontasioneel. Jy as die besoeker het genoeg inligting gekry om jou persepsies reg te stel en ek het met 'n ander beeld oor baie dinge daar weggevaar. Selfs Nelson se boek gekoop en nog meer antwoorde daaruit gekry.
Hoekom wil ons in Namibië blykbaar ons geskiedenis misken, ontken, verwaarloos en verwoes?
DAAR IS 'n MARK
Daar is 'n gehoor daar buite wat hierheen wil en sal kom; om antwoorde te kry en 'n behoefte het om in die spore van hul voorsate te loop en hul koppe skoon te maak oor wat in daardie tyd gebeur het en wat goed was en wat sleg was. In die proses betaal hulle en help werk skep.
Maar nee. Ons verwyder standbeelde en verander straatname. Ons laat historiese geboue in ruïnes verval en laat toe dat dit geplunder en stuk-stuk afgebreek word en gesteel word. Ons ontken die geskiedenis en ons weier om daaroor te praat.
Dis soos 'n ou wat 'n bladsy uit sy biografie skeur omdat iets hom nie aanstaan nie. Mense gaan meer praat en wonder oor daai blad wat weg is as oor die res. Dalk verwerp hulle die hele storie omdat dit onvolledig is.
Dit sal nie help om blaaie uit ons verlede te skeur nie. Oorwinnaars moet eerder groter wees en die geskiedenis sy regmatige plek gee, om ons volwassenheid in oorwinning ten toon te stel.
Ek het voorstelle!
Kom ons maak die Alte Feste reg en stal die geskiedenis van daardie tyd daarin uit. Dan kan besoekers deur hiervandaan na die nuwe museum oor te stap die oorgang in die geskiedenis beleef.
Kom ons plak die uitgeskeurde blad terug en wys die geskiedenis vir wat dit was sonder haat en ontkenning.
Of skenk dan die ou vesting aan WHS, om dit op te knap en aan te wend as deel van die skool se infrastruktuur; dalk as administratiewe vleuel.
Die boustyl pas nogal by die Vegkop-tema van die sportveld en dit kan dalk WHS se nuwe sportakademie word.
Dan hou ons ten minste die geboue en terrein rondom die nuwe geskiedenis in stand, sodat ons dit ook met trots aan ons nasie en besoekers kan voorlê. Al kort daar 'n blad of twee.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie