Nuwe politieke party in die huis
Die NEFC beywer hulle vir bemagtiging deur die nasionalisering van onder meer mynbou en visserye.
Augetto Graig - Namibië is nóg ’n politieke party ryker.
Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het Dinsdag die amptelike stigting van die National Empowerment Fighting Corruption (NEFC)-party in die sosiale media aangekondig.
Volgens me. Lina Ndengu, ECN-woordvoerder, is die party se sertifikaat van registrasie ook Dinsdag aan hulle oorhandig.
Mnr. Kenneth Iilonga, stigter en president van die NEFC, het in Mei 2019 reeds ’n aansoek vir die stigting van die party ingedien, sê Ndengu.
Iilonga het as onafhanklike kandidaat in die Walvisbaai- stedelike kiesafdeling om lidmaatskap van die Erongo-streekraad meegeding.
Hy was toe nog amptelik ’n Swapo-lid, maar was van mening die party het weens binnegevegte nie daarin geslaag om Walvisbaaiers se behoeftes aan te spreek nie.
Die NEFC sal hom beywer vir grond vir alle burgers om behoorlike behuising moontlik te maak, en staatseienaarskap van 60% in Namibiese mynbou.
Iilonga sê myne betaal nie genoeg belasting aan die staat nie, gegewe die feit dat hulpbronne eintlik aan landsburgers behoort.
Ilonga wil ook hê die staat moet in beheer van 60% van mariene hulpbronne en veral visserye wees.
“Onderwys moet werklik gratis wees sonder dat ouers vir boeke ensovoorts moet betaal. In die ou dae het Suid-Afrika al die boeke verniet verskaf. Ons kort ook meer groenskema-projekte. Wat ons het, is te klein, en die mense ly honger omdat ons al ons kos van Suid-Afrika moet koop. Mense wat ligte vonnisse in die tronk uitdien, moet in hierdie skemas werk,” sê hy.
Saam met die party se visepresident, mnr. Mathew Stephanus, beplan Iilonga ’n strategie vir hul deelname aan die komende streek- en plaaslike verkiesings.
Volgens Ndengu is een van die registrasievereistes waaraan die NEFC moes voldoen dat minstens 500 burgers binne minstens sewe streke, en altesaam nie minder nie as 3 500 Namibiërs, die party op skrif ondersteun.
Iilonga sê sy party kon die nodige handtekeninge van die Erongo-, Otjozondjupa-, Oshikoto-, Oshana-, Omusati-, Ohangwena- en Khomasstreek kry met bykomende ondersteuning van die ||Kharasstreek en die Suide.
Die ECN het ook ’n afdruk van die nuwe party se grondwet vereis, N$25 000 as registrasiefooi, die name van die party se beamptes, ’n besigheidsadres en die nuwe party se logo.
Ná die verifiëring van inligting en dokumente is die NEFC op 25 November 2019 in die Staatskoerant aangekondig.
Besware kon nog tot einde Desember verlede jaar ingedien word.
“Ná 30 dae sal die kommissie die aansoek goedkeur of nie. Indien dit goedgekeur word, sal die kommissie die uitvoerende hoof, mnr. Theo Mujoro, opdrag gee om ’n sertifikaat uit te reik,” het Ndengu gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie