Nuwe Protea-plan: Genadeloos, dog slim taktiek
Krieket
Leighton Koopman
Die Proteas weet hoe hulle die twee kitsreekse teen Engeland gaan benader: Aanvallend, maar nie roekeloos nie.
Suid-Afrikaanse kolwers én boulers gaan teenstanders in die vervolg meer regstreeks aanvat.
Mark Boucher, die Protea-breier, sal hoop veral sy kolwers vind baat by dié nuwe ingesteldheid. Terwyl 'n paar groentjies, soos Janneman Malan, Heinrich Klaasen en Kyle Verreynne, goed gevaar het in die span se eendagreeks teen die Aussies vroeër vanjaar, tel nie een Suid-Afrikaner onder die voorste tien kolwers in T20-krieket nie.
Quinton de Kock, Suid-Afrika se beste kitskolwer, is net buite die toptien op nommer 13, terwyl Reeza Hendricks (16) en David Miller (20) die ander Proteas in die top-20 is.
Engeland, daarenteen, het twee kolwers in die toptien. Dawid Malan word as die voorste T20-kolwer in die wêreld gereken en die kaptein, Eion Morgan, is tiende. Jonny Bairstow (19) is ook in die top-20. Engeland beklee tans die tweede plek op die wêreldranglys, met Suid-Afrika vyfde.
In eendagkrieket lyk dinge ook nie te waffers nie. Net Faf du Plessis (5) en De Kock (9) tel onder die top-20-kolwers. Engeland, die wêreldkampioen, het vier spelers in die top-20. Mark Boucher, Protea-afrigter, het die afgelope week gesê sy spelers moet hul nuwe kultuur van slim, maar aanvallende krieket omarm in die reekse teen Engeland. Dis die enigste manier hoe hulle die aggressiewe Engelse benadering sal kan teenwerk.
“Ons moet byhou met die tendens van internasionale krieket, en aanvallende krieket is die rigting waarin dit beweeg,” sê Boucher.
“Maar jy moet slim wees en nie net wil inklim nie. Ons het vasgestel hoe ons wil speel en ook die spelers geïdentifiseer wat ons dink op daardie manier kan speel.
“Daar sal aan sekere spelers, wie se manier van speel nie noodwendig daarby inpas nie, die geleentheid gegee word om te groei. Om 'n paar nuwe houe tot hul arsenaal te voeg as hulle kolwers is, of verskillende aflewerings as 'n bouler.
“Ons moet spelers begin uitdaag om in die regte rigting te beweeg. Dit is egter 'n nuwe struktuur wat ons tyd sal moet gee om te ontwikkel. Die span wil wen, maar ons wil leer terwyl ons wen.”
Terwyl Boucher-hulle reeds 'n idee het van wie hul gevestigde spelers is, is daar 'n handvol kolwers wat 'n kleim kan afsteek om vir volgende jaar se T20-Wêreldbekertoernooi oorweeg te word.
Die Protea-breier het juis bevestig dat hy straks sy span gaan afwissel vir die volgende drie T20-wedstryde.
“Ons weet nog nie werklik wie ons topvyf-kolwers is nie. Ons sal spelers kies vir verskillende toestande. Die geleentheid is daar om na verskeie spelers te kyk. Dalk moet ons die werkslas van spelers bestuur wat in die IPL gespeel het en so 'n geleentheid aan 'n nuwe gesig gee.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie