Nuwe raad vir NSFAF
Nuwe raad vir NSFAF

Nuwe raad vir NSFAF

Begunstigde studente vind dit moeilik om by instansies te registreer sonder 'n bewys dat hul studiefooie betaal sal word.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing, dr. Itah Kandjii-Murangi, het Woensdag die Nasionale Hulpfonds vir ­Studente (NSFAF) se nuwe raad bekend gemaak.

Mnr. Jerome Mutumba, woordvoerder van die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN), is as voorsitter aangewys en dr. Christina Swart-Opperman as adjunkvoorsitter.

Verder dien me. Tulimeke Munyika, dr. Isak Neema, dr. Natascha Cheikhyoussef, mnr. Stephen Tjiuoro, me. Adda Angula en mnr. Ananias Abner op die raad.

Die nuwe raad sal vir drie jaar dien en neem die leisels oor by die vorige raad, gelei deur me. Patty Karuaihe-Martin.

Saam met haar het mnr. Mbushaandje Ntinda, mnr. Frans Gertze, mnr. Timoteus Angala en me. Liezl Van Wyk gedien, asook me. Albertina Nanghela, wat as verteenwoordiger van die ministerie van finansies vir ten minste 12 raadsvergaderings in 2017 nie bywoningsfooie kon eis nie.

Die NSFAF was in 2017 gedurig in die media oor onder meer groot bedrae wat vir die bywoning van raadsvergaderings aan raadslede betaal is.

Dr. Itah Kandjii-Murangi verwag van die nuwe raad om groot veranderinge by die hulpfonds teweeg te bring.

Die fonds, wat tans 'n onafhanklike staatsonderneming is, sal na verwagting weer onder die ministerie se vlerk geneem word.

“Ek verwag van hierdie raad om duide­like en effektiewe leiding te neem in ­NSFAF-sake,” het sy gesê.

Kandjii-Murangi het opdrag gegee dat die nuwe raad korrekte en ­beslissende aksie neem om die bestuur van die NSFAF te verbeter, om dienslewering te verbeter en om studente, ouers, personeel en die publiek se vertroue in die fonds te herstel.

“Kyk na die prosesse wat nodig is om die transformasie van die NSFAF te bespoedig, maar maak seker dit beïnvloed dienslewering nie negatief nie,” het sy gesê.

Die minister erken daar is tans uitdagings by die fonds “wat jul gesamentlike wysheid sal benodig”.

“Die negatiewe publisiteit eindig nou,” het sy gesê.

Die hulpfonds staar tans 'n groot uitdaging in die gesig ná hoëronderwysinstansies vroeër die week aangedui het hulle weier om studente te registreer wat van verlede Vrydag af vir finansiële hulp by die fonds aansoek gedoen het

NSFAF-erkenningsbriewe word outomaties aan dié voornemende studente uitgereik, maar universiteite weier om hierdie briewe vir registrasiedoel­eindes te aanvaar, omdat dit nie finansiering waarborg nie.

Die impak hiervan kan reeds op kampusse gesien word.

Minder studente het tot dusver vanjaar geregistreer as in vorige jare.

Die gevolge hiervan kan finansieel verreikend wees.

'n Ontleder sê selfs al gee die minister opdrag dat plaaslike instansies met registrasie voortgaan, help dit studente in die buiteland niks, en indien die NSFAF studiefooie later nie kan betaal nie, sal die regering self moet opdok.

Volgens plaaslike media is die minister tans in gesprek met universiteitsverteenwoordigers. Die miljarddollarfonds se geldprobleme sal nie maklik opgelos kan word nie – veral omdat die regering vir 2018 slegs N$950 miljoen aan die fonds toegeken het.

Teen die einde van 2017 was die NSFAF reeds in die rooi ná daar teen Oktober N$947,59 miljoen bestee is, maar sowat N$404 miljoen aan instansies en studente verskuldig was.

Me. Hilya Nghiwete, uitvoerende hoof van die NSFAF, het toe gesê betalings van N$404 miljoen moet nog gemaak word “wanneer die geld daarvoor ­beskikbaar is”.

Dié skuld sluit lenings van N$21 600 per student in, wat studente se verblyf, kos, vervoer en ander uitgawes moes dek.

Tans het van die studente slegs N$3 000 ontvang, terwyl die fonds wag dat die ­regering weer geld beskikbaar stel.

Die fonds probeer ook om vorige ­begunstigdes wat lenings nie terug­betaal het nie, op te spoor.

Tot dusver het die fonds daarin geslaag om sowat N$77 miljoen van 'n uitstaande N$698 miljoen te verhaal.

Afgesien van belonings vir werknemers en raadsvergaderingsfooie het die NSFAF ook ander uitgawes, wat insluit die betaling van Namic vir hul betaalstelsel, die koste van die aanlyn aansoekstelsel en die bou van die NSFAF se nuwe hoofkantoor van N$178 miljoen, wat aan China Jiangxi International en sy Namibiese vennoot, Homefin Properties, toegeken is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 23° | 37° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 24° | 34° Ruacana: 21° | 35° Tsumeb: 25° | 34° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 15° | 21° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 22° | 37° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 16° | 34° Ariamsvlei: 21° | 37° Oranjemund: 13° | 23° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 37° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 16° | 33° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 21° | 36° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 16° | 22° Durban: 19° | 28° Johannesburg: 18° | 30° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!