'Nuwe' SAL skuld nog duisende
Antoinette Slabbert
Net 'n week nadat die “nuwe” Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) ná meer as 'n jaar weer begin vlieg het, moes hy van sy buitelandse vlugte verminder en vlugte na nuwe roetes uitstel.
Dít terwyl die SAL duisende mense geld skuld vir vlugte wat hulle meer as 'n jaar gelede bespreek het, maar wat die lugdiens nie kon verskaf nie.
“Dit sal lank vat vir die SAL om mense se vertroue terug te wen. Hulle sal moet wys dat hulle vlieg wanneer hulle sê hulle vlieg,” sê die lugvaartekonoom Joachim Vermooten.
Die toerismenuusdiens TravelNews het laat in Augustus berig die SAL het begin om die 17 000 eise wat hy gekry het vir terugbetalings van vroeëre kaartjiebesprekings te verwerk. Die SAL het glo net twee personeellede gehad wat die eise moes verwerk.
Otto de Vries, uitvoerende hoof van die vereniging van Suider-Afrikaanse reisagente (Asata), het die afgelope week gesê hulle werk nou saam met die SAL se bestuur om te verseker dat die lugdiens genoeg hulpbronne daaraan toewys en glo die SAL “doen alles in hul vermoë om so gou moontlik aan die verwagtinge (van passasiers) te voldoen”.
Volgens Vermooten het die sakereddingspraktisyns in hul reddingsplan daarvoor voorsiening gemaak dat al die passasiers ten volle vergoed kan word. Die departement van openbare ondernemings het egter nie die R3,2 miljard wat nodig is, voorsien nie. Daar is volgens hom 'n tekort van sowat R1 miljard daarvoor.
Dit beteken die SAL moet eers genoeg kontant genereer om al die terugbetalings te kan doen, tensy die voorgenome transaksie om 'n meerderheidsaandeel aan die Takatso-konsortium te verkoop, genoeg kontant daarvoor genereer.
– Lees die volledige berig aanlyn by Netwerk24/Rapport

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie