Nuwe sentrum vir tegnologie

'n Nuwe tegnologiesentrum by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie gee innovasie in Namibië 'n hupstoot.
Augetto Graig
Augetto Graig



'n Nuwe tegnologiesentrum, die High-Tech Transfer Plaza Select (HTTPS), is Donderdag amptelik by die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) geopen.

Dié multimiljoendollar sesverdiepinggebou in die middestad is toegerus om Namibië se veldtog vir die vierde indus­triële revolusie af te skop.

Wêreldwyd word hierdie groepering letters gereeld voor internetaddresse gesien, en nou sal dit ook die bestemming van innovasie, inligting, tegnologie en 'n nuwe benadering tot benutting van die omgewing in Namibië word.

Die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, het by die geleentheid gesê: “Die wêreld sit nie ledig en wag dat Namibiese uitvindsels na die mark gebring word nie.

“Dis noodsaaklik dat Namibië sy vermoë om met wêreldbeleggings mee te ding, om wêreldwye talent te lok, om Namibiese talent te behou en sy ontwikkeling van wonderlike idees wat wêreldwye potensiaal en impak het, moet verbeter.

“Nust se HTTPS is 'n wegspringplek wat Namibië sal help om dìt te bereik.”



HUISVES DIé GERIEWE

Konferensiefasiliteite, tegnologielaboratoriums, winkelruimte waar ondersteuningsdienste aan studente gebied sal word en 'n taxistaanplek sal verseker dié tegnologiesentrum sal bedrywig wees.

Die visekanselier van Nust, dr. Erold Naomab, sê HTTPS word onderskei deur sy grootte, intensiteit en die skaal waarop tegnologiese oordrag sal plaasvind.

“Daarom is HTTPS nie 'n kantoor of 'n gebou nie, maar 'n ekosisteem wat ver­skillende tegnologiese rolspelers – ongeag hul grootte of die tipe sektor – bymekaarbring.”

“Die projekte wat binne die HTTPS onderneem sal word, word gebaseer op vooraanstaande digitale tegnologieë soos die industriële 'Internet of Things', kuberveiligheid, X Reality, Big Data Analytics, kunsmatige intelligensie (AI), outonome robotika en Edge Computing.

“Met behulp van 'n 5G-netwerk en hoëprestasie-rekenaars, kyk ons na 'n intelligente netwerk van masjiene, prosesse en mense waarvoor onmiddellike data-ontleding beskikbaar is, om onbenutte potensiaal te ondersoek en terselfdertyd 'n volledige kreatiewe waardeketting te skep,” sê Naomab.

Hy het uitgebrei oor 'n vennootskap met MTC ter waarde van N$51 miljoen oor 'n vyfjaarperiode, waaronder 13 navorsingsprojekte gefinansier sal word; die N$40 miljoen wat die Duitse ministerie van onderwys bewillig het en navorsing vir 'n nagraadse studieprogram vir geïntegreerde waterhulpbronbestuur, en ander samewerking met instansies soos die Walvisbaai-korridorgroep (WBCG).

Die HTTPS sal ook die eerste ­nagraadse studieprogram vir die ­Suider-Afrikaanse wetenskaplike dienssentrum vir ­klimaatsverandering en aanpassingsgrondbestuur (Sasscal) huisves.

Sasscal se uitvoerende direkteur, me. Jane Olwoch, sê die klem op waterbestuur in hul navorsing kom terwyl waterhulpbronne uiters belangrik vir die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC)- lidlande is.

“So 'n uitdaging vereis sekere kaliber wetenskaplikes en ingenieurs wat met nuwe inligting en tegnologie vorendag moet kom om die waterbronne wat ons het, meer volhoubaar te bestuur,” sê sy.

MTC se besturende direkteur mnr. Licky Erastus, het gesê “deur middel van die digitale ekonomie oorbrug ons die kloof tussen ekonomie en inligting wat soveel van ons bevolking agterweë gelaat het.”

Erastus het gesê dié telekommunikasiereus sal sy digitaliseringspan by die HTTPS huisves.

“Deur middel van ons digitaliseringstrategie is ons ambisie om 'n ­volhoubare sakemodel te ontwikkel, wat gefokus is op inklusiewe kapitalisme. Dit beteken waarde word nie net vir die aandeel­houer geskep nie, maar ook vir alle ander belanghebbendes,” het Erastus gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!