Nuwe skole sluit by NASP aan
Nuwe skole sluit by NASP aan

Nuwe skole sluit by NASP aan

Boogskiet
Tielman van Lill
Die Nasionale Boogskietprogram in Skole vir Namibië (NASP) het onlangs nuwe lede dwarsoor die land verwelkom wat aan laer- en hoërskoolkinders die kans gee om dié opwindende sport te bemeester.

Die ses nuwe skole of organisasies is Beautiful Kids Namibia in Katutura, Welwitschia School en Soul Point (beide by Brakwater), Keetmanshoop Privaatskool, Lüderitz en Grootfontein Agri Kollege.

Hierdie byvoegings bring die NASP se ledetal op 23 te staan.

Altesame 186 boogskutters verskyn reeds op sy nasionale ranglys.

“Ons het een ondersteunende toelaag vir die jaar oor. Ons sien uit daarna om die nuwe lede se atlete by vanjaar se kompetisies te verwelkom. Die eerste toernooi vir 2017 sal op Gobabis wees waar meer as 110 deelnemers reeds ingeskryf het,” skryf Karola Woortman, sekretaris van NASP.

Die volgende vyf kompetisies vir die nuwe seisoen is reeds geskeduleer. Op 25 Maart vind die NASP ranglyskompetisie op Bitterwasser plaas waar die NLU Agri Kalahari Braaikarnaval aangebied word. Die laaste geleentheid vir skutters is op 8 April om die oog te vang voor die span vir die African All Stars gekies word.

Op 31 Mei sal NASP 'n skietdag vir al die privaatskole in die land aanbied.

NASP Namibië se eerste internasionale kompetisie vind vanaf 6 tot 10 Julie in Windhoek plaas waar nege lande soos Botswana, Namibië, Suid-Afrika en Zimbabwe sal pyle trek. Die laaste toernooi is op 9 en 10 September wanneer NASP sy tweede nasionale kampioenskap aanbied.

“Die bestuur van NASP Namibië bedank graag die borge hartlik wat ons sport so 'n groot sukses maak. 'n Spesiale woord van dank aan Toekoms Bow Hunting Safaris, Goba Lodge, Aqua Royale, Gobabis Toyota, M.P. Kirsten Consulting en Williams Metaalwerke wat die dag se aksie op Gobabis borg,” sê Woortman.



MALAN EN LOUW OORHEERS OP TSUMEB

Die derde jaarlikse Moruti Spar-toernooi is laas Saterdag op Tsumeb afgehandel waar 23 skutters in perfekte weerstoestande mekaar die stryd aangesê het.

Louw Vermaak in die manskompetisie en Ilana Malan by die vroue het opnuut hul peil in die saamgestelde boogafdeling vir seniors gewys toe beide goue medaljes opgeraap het.

Adriaan Grobler moes in Januarie vanjaar met 'n tweede plek teen Quinn Reddig tevrede wees. Saterdag was Grobler egter op sy stukke om Reddig 'n ding of twee te wys.

Nadat Babette Taljaard vir bykans 'n jaar afwesig was, het sy die naweek met 'n goeie derde plek teen Liezl Schoeman weggespring.

Die volgende skutters het goud behaal:

Saamgestelde boog: Seuns o.13: Casper Oosthuizen. Meisies o.13: Nanda Schoeman. Kadet vroue: Brigitte Tietz. Kadet mans: Dirk de Bod. Senior mans: Louw Vermaak. Senior vroue: Ilana Malan.

Terugbuigboog: Beginner meisies: Danielle Esterhuysen. Welpie seuns: Morné Meyer. Kadet vroue: Quinn Reddig. Kadet mans: Adriaan Grobler. Senior mans: Paul Grobler.

Die Boogskietvereniging van Namibië bedank al die organiseerders en sonder veral Frank Reddig, Rita Schank en Christo Brandt uit wat as beamptes opgetree het.

Die volgende kompetisie word op 4 Maart by SKW in Olympia aangebied. Skutters wat aan die toernooi wil deelneem, is welkom om hul besonderhede per e-pos aan Paul Grobler by [email protected] te stuur.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!