Nuwe skool open op Stampriet

Roots Gimnasium is die eerste van drie skole in die Rieckert Gimnasium skolegroep.
Kristien Kruger
Kristien Kruger – Die blinknuwe Roots Gimnasium se deure sal op 27 Januarie vir die eerste keer open om hul 40 leerlinge, vanaf graad RR tot graad 7, te verwelkom.

Volgens me. Colette Rieckert, besturende direkteur van Windhoek Gimnasium, is Roots een van drie skole wat deel vorm van die Rieckert Gimnasium skolegroep. Die ander twee is Ongwediva Gimnasium en Walvisbaai Gimnasium wat eers in 2022 sal open.

“Die opvatting dat Roots in die Curro-groep is, is nie waar nie. Roots het nog nie genoeg leerlinge om 'n Curro-skool te wees nie. Curro het 'n beleid dat hulle slegs op skole met meer as 750 leerlinge fokus.

“Ons begin daarom die skool nes ons Windhoek Gimnasium begin het en sodra hulle groot genoeg is, sal ons dit aan Curro aanbied en die skool moontlik aan hulle verkoop,” het Rieckert aan Republikein gesê.

Sy sê Windhoek Gimnasium is gevolglik Roots se moederskool.

Die skoolhoof is me. Annelie Liebenberg, tevore onderwyseres van Elnatan Privaatskool wat al 34 jaar in die onderwys is.

“Ek sien uit na 'n nuwe uitdaging en ek voel ek het die ondervinding wat nodig is om van hierdie skool 'n sukses te maak,” het Liebenberg aan Republikein gesê.

Me. Desirée Visser is 'n kliniese sielkundige wat verantwoordelik vir karakterontwikkeling by Roots sal wees.

“Die karakterontwikkeling sal een keer per week aangebied word om seker te maak kinders het die nodige sosiale vaardighede wanneer hulle klaar is met skool. 'n Kind kan hoe slim wees, maar mens moet sosiaal aanvaarbaar wees om suksesvol te wees in enige beroep,” het Liebenberg gesê.

Die gewese Namibiese rugby­kaptein en Saracens-legende, Jacques Burger, is as rugbykoördineerder aangestel en mnr. Jandré van Wyk, sportwetenskaplike, sal by leerlinge se fisieke ontwikkeling betrokke wees.

“Ons glo dit is belangrik dat leerlinge gestimuleer word. 'n Kind moet op al drie gebiede – akademie, sport en sosiaal – ontwikkel en daarom het ons spesialiste aangestel om leerlinge op hierdie gebiede ook te fasiliteer,” het Liebenberg gesê.

Die skool het ook 'n koshuis, 'n pendeldiens tussen Stampriet en Mariental en bied selfs perdrylesse aan alle leerlinge.

Tans is 17 leerlinge ingeskryf by Roots se koshuis waar me. Marietjie Ludeke die toesighouer sal wees.



BUSDIENSTE

Roots adverteer hul busdienste teen 'n bykomende fooi vir leerlinge wat soggens skool toe gaan en smiddae wil terugkeer huis toe.

Die bus sal omstreeks 06:00 die leerlinge in Mariental oplaai en dan sal daar twee tye wees wanneer leerlinge kan terugkeer. Die eerste bus vertrek 13:00 en die tweede 17:00.



ROBOTIKA

Roots-leerlinge sal ook robotika as vak hê om hulle gereed te kry vir lewe en werk in die 21ste eeu. Dit sal fokus op tegnologie in terme van kommunikasie, kreatiewe skepping, samewerking, burgerskap, karakteropvoeding en kritiese denke.



PERDRYLESSE

Volgens hul Facebook-blad sal Rooties ook die geleentheid kry om liefde vir perde te ontwikkel en perdrylesse te kry.

Dié aktiwiteit is in leerlinge se skoolpakkette ingesluit. Elke leerlinge kry glo 'n halfuur per week.

Me. Joáni Claassen Coleman sal die perdryinstrukteur by Roots wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!