• Tuisblad
  • Sake
  • Nuwe Spur-spyskaart het selfs iets vir veganiste
Nuwe Spur-spyskaart het selfs iets vir veganiste
Nuwe Spur-spyskaart het selfs iets vir veganiste

Nuwe Spur-spyskaart het selfs iets vir veganiste

Hanlie Stadler – Spur stel in Oktober ’n blinknuwe spyskaart bekend wat ’n hele bladsy gaan toewy aan vegetariese kos, insluitend ’n paar veganistiese opsies.

Spur – ’n braairestaurant bekend om sy ribbetjies, burgers en biefstuk – gaan nooit “voorgee” om as geheel veganisties te word nie, maar daar is wel ’n groot vraag na meer opsies vir mense wat nié vleis wil eet nie.

“Die Salad Valley kom egter nié terug nie,” sê Pierre van Tonder, uitvoerende hoof van die Spur Corporation.

Die groep – wat benewens Spur-restaurante onder meer ook Panarottis Pizza Pasta, The Hussar Grill en RocoMamas insluit – het goeie resultate vir die boekjaar tot einde Junie uitgereik.

Restaurantverkope het in geheel met 7,2% tot R7,6 miljard gestyg en die groep se vergelykbare wins het met 15,9% opgeskiet.

Die syfers het gekom ná ’n paar moeilike jare en kom selfs ondanks die voortslepende druk op verbruikers.

Van Tonder sê elke uitvoerende hoof in die land het die frase “uitdagende handelstoestande” al op hul bors getatoeëer. “Dit is wat dit is. Die vraag is: Wat gaan ons daaromtrent doen? As jy niks doen nie, gaan jy onder.”

Spur Corporation se sukses is behaal deur streng kostebeheer en ’n fokus daarop om vir mense waarde vir hul geld te gee wanneer hulle wel kom uiteet. Die groep kon sy volume verkope en markaandeel volhou, wat Van Tonder aan die “veerkragtigheid van sy handelsname” toeskryf.

Toename van kosaflewering

Die Spur-groep het die toenemende gewildheid van kosaflewering, deur Uber Eats en Mr D Food, omarm by al sy restaurante.

Van Tonder sê egter hy beskou dit vreemd dat mense in die huidige ekonomie bereid is om in die omgewing van R20 méér per burger te betaal (weens prysverskille én afleweringskoste) om dit tuis te laat aflaai, pleks dat hulle restaurant toe te kom.

Die groep is besig om ’n app te toets wat dit makliker sal maak vir mense om bestellings te plaas en te kom oplaai.

“Die groep se model sal meer kostedoeltreffend as uitgekontrakteerde kanale wees, sowel as meer klant-gefokus, wat beter diens sal verseker en ’n regstreekse verhouding met die groep se handelsmerke en hul klante sal handhaaf.”

Die app gaan glo unieke eienskappe bevat wat nog nie op die plaaslike mark beskikbaar is nie.

Pizza

Slegte nuus vir veral studente is dat Panarottis Pizza Pasta se “bodemlose pizza” binnekort iets van die verlede gaan wees.

Goeie nuus is egter dat houtoonde hier is om te bly. Van Tonder sê dis eenvoudig winsgewender weens die skerp stygings in kragtariewe.

Op dié front is daar ook die moontlikheid dat Panarottis vanjaar pizzas in slegs een grootte gaan begin verkoop as deel van ’n poging om spyskaarte te vereenvoudig.

Australië

Ná nog ’n droewige jaar van finansiële verliese begin dit lyk asof Spur dit ernstig oorweeg om hom aan dié land te onttrek.

In syfers

· Restaurantverkope styg met 7,2% tot R7,6 miljard.

· Groepinkomste styg met 5,9% tot R944,8 miljoen, waarvan Suid-Afrikaanse inkomste 95,6% verteenwoordig.

· Dividend: ’n Finale dividend van 73c word uitgekeer, wat die voljaardividend met 10,6% tot 136c laat styg.

Hoe verskillende restaurante vaar

Restaurantverkope is grootliks aangedryf deur die opening van nuwe restaurante. Vergelykbare verkope verwys na restaurante wat ook in die 2018-boekjaar oop was.

By Spur is die groep besig om plek-plek restaurante oor te doen – mense sal reeds nuwe breekware in baie takke sien. 13 nuwe Spurs is in die jaar geopen, insluitend drie kleiner formaat Spur Grill & Go-takke.

Verkope by sy afdeling vir pizza en pasta, wat Panarottis Pizza Pasta en Casa Bella insluit, het weer vasgebrand. Mededinging van wegneem-pizzaplekke het die afgelope jare tot afslagpryse gelei. Spur sê hy het doelbewus uit die stryd om afslagpizza getree en gaan eerder fokus op gehalte en waarde. Dit gaan op kort termyn ’n uitwerking op omset hê.

Wat John Dory’s betref, is die groep diep bekommerd oor die wêreldwye druk op visbronne, wat tot tekorte kan lei.

Gautengers kon die afgelope jaar vir die eerste keer ook by The Hussar Grill eet.

· Verkope in Suid-Afrika het met 6,2% (vergelykbaar: 2,7%) gestyg;

· Verkope in die buiteland het in randwaarde met 16,2% (vergelykbaar 4,1%) gestyg;

· Spur Steak Ranches: 5,4% (4,2%);

· Pizza en pasta (Panarottis en Casa Bella): 0,9% (1,4%);

· John Dory’s Fish Grill Sushi; 4,6% (4%);

· The Hussar Grill: 13,4% (7,5%);

· RocoMamas: 7,5% (0,8%);

· Totale verkope: 7,2% (2,9%). – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!