Nuwe toerismeroete vir Kaza-avonturiers

Sowat 50 mense sal aan vanjaar se groot ­avontuurekspedisie deelneem wat oor 5 000 km deur Angola, Namibië en ­Botswana strek.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Toerisme verbreed sy horisonne met Raid Cacimbo Cuca 2018 – die eerste Angolese toerisme­roete in die Kavango-Zambezi-­­oor­grensgebied (Kaza TFCA) na Namibië.

Vanjaar se groot avontuurekspedisie langs dié nuwe roete sal van 21 Julie tot 5 Augustus met sowat 50 deel­nemers plaasvind, wat 5 000 km deur drie lande van Kaza - Angola, Namibië en Botswana - sal reis.

Die roete is verlede week in die Angolese hoofstad, Luanda, ingehuldig en word deur die Angolese ministerie van toerisme ondersteun.

Die Angolese minister van ­toerisme, me. Angela Bragança, was teenwoordig, asook die staatsekretaris vir jeug, me. Mayer Alcaim, die nasionale ­uitvoerende koördineerder van die Kaza-projek, mnr. Rui Lisboa, borge, organisasies asook deelnemers aan die eerste Cacimbo Cuca in 1996.

Vanjaar se Raid Cacimbo sal 'n nuwe roete volg met Boa Fé, Binorio, Jamba en Bobuata ingesluit.

Die roete, wat ook andersom gedoen kan word, is met asemrowende land­skappe, geskiedkundige terreine en natuur­reservate besaai.

Die grootste konsentrasie van die Afrika-buffel kan in die Luengue Luiana Park gesien word en op pad is ook ou Unita-geriewe en die bekende Rio Cuando.

'n Lid van Social Team Angola, mnr. Ricardo Fernandes, het gesê die Raid Cacimbo dra die gees van avontuur en ontdekking van die “Cacimbados”.

“Dit is ons doelwit om Angola met sy riviere wat die groot Okavangodelta voed, aan die wêreld te wys. Ons wil graag Angola as 'n toeristebestemming in die konteks van ­volhoubare toerisme bevorder,” het Fernandes gesê.

“Die Raid Cacimbo het meer as 20 jaar se geskiedenis met hoof- en ander roetes wat in 18 provinsies van Angola en vier Afrikalande oor ­duisende ­kilometers in vergete plekke en die mooiste en ongewone Afrikaland­skappe ontdek is.”



DIE STORIE VAN RAID CACIMBO

Die Raid Cacimbo het in 1996 afgeskop en sedertdien 'n prominente plek op die kalender ingeneem, maar is van 1998 tot 2001 weens onveiligheid onderbreek.

Die aantal voertuie wissel jaarliks van 10 tot 15 en wissel ook volgens die moeilikheidsgraad van die roete, wat tussen 3 000 km en 8 000 km lank is. Die roete word twee tot drie weke agter­eenvolgend in verskeie Angolese provinsies gedoen en sommige reise het grense oorgesteek.

In die geskiedenis van die Raid Cacimbo staan twee ekspedisies uit: Die eerste een in 1996 het met 92 mense, 33 TT-voertuie en 'n ­motorfiets die meeste deelnemers gehad, en in 2009 is die verste gereis – 7 800 km in 22 dae.

Die “Cacimbados” het reeds die 18 Angolese provinsies deurkruis en die verste punte wat bereik is, is Miconge (Cabinda), Soyo (Zaïre), Chiluage (Lunda Sul), Lago Dilolo (Moxico), Cinde (Kwando Kubango) en Foz do Rio Cunene (Namibië). Raid Cacimbo het al oorgrenspaaie oorkruis na Maputo (Mosambiek) en Loubomo, voorheen Dolisie, in die Demokratiese Republiek die Kongo.

Die groep is nie mededingend nie, maar wedrenne kan by sekere punte georganiseer word, hoewel hulle hulself distansieer van spoed en ander risiko's wat gewoonlik deel van kompetisies is.



SOCIAL TEAM ANGOLA

Social Team Angola is in 2012 gestig en is 'n multidissiplinêre groep wat veral op die ontwikkeling van maat­skaplike sportaktiwiteite fokus.

Alle geleenthede is gebaseer op maatskaplike verantwoordelikheid en gemeenskapsbetrokkenheid.

Hulle is verbind aan sport in die ­algemeen met die ontwikkeling van atlete en deelname in sport, en fokus op die waardes van maatskaplike ­verantwoordelikheid, omgewingsbewaring en spangees.

Kaza is 'n projek wat bestaan uit vyf Afrikalande naamlik Angola, ­Botswana, Namibië, Zambië en ­Zimbabwe. Dit is die grootste oorgrens­bewaringsgebied in die wêreld en spog met die grootste ­olifantbevolking in Afrika.

Kaza is 520 000 vierkante kilometer groot en bestaan uit sowat 40 nasionale­ parke, natuurreservate, woudreservate, bewaringsgebiede, wildbestuurgebiede en toerismekonsessies. Dit spog met toeristeaantreklikhede soos die Victoria-­valle, een van die sewe natuurwonders van die wêreld, en 'n wêrelderfenisgebied, asook die Okavango-delta, die grootste Ramsar-gebied ter wêreld.

Minstens 3 000 plantspesies en 600 voëlspesies kom in die ­opvangsgebiede van die Zambezi- en Kavangorivier voor.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer