Nuwe toerusting vir Windhoek Sentrale Hospitaal

Die nuwe masjien dui onder meer aan hoe pasiënte op behandeling reageer, wat dit makliker vir dokters maak om die beste mediese behandeling voor te skryf.
Die Windhoek Sentrale ­Hospitaal is mediese toerusting ter waarde van N$282 000 ryker.

Die moderne bloedgasontleder sal met twee bykomende meters vir glukose en laktaat in die intensiewe­sorgeenheid aangewend word.

Volgens mnr. Bolle Hans, FNB se ­bestuurder vir bankwese in die ­openbare sektor, is die ­toerusting volgens internasionale riglyne vir versorging ideaal vir nasorg in ­pasiënte ná operasies.

“Die Nova-bloedgasontleder gebruik droë chemiese reagense en ander middels, nie nat reagense soos ander masjiene nie. Die sensorkaart maak van mikro-elektronika en mikro­sensor-tegnologie gebruik,” het hy verduidelik.

Die nuwe masjien dui ook aan hoe pasiënte op behandeling reageer, wat dit makliker vir dokters maak om die beste mediese behandeling voor te skryf.

“Ons is inderdaad besig om 'n nuwe grondslag in openbare gesondheid te bou,” het Hans gesê.

Hy het die bank se toewyding aan die slagspreuk “hoe kan ons help” beklemtoon en gesê om dié rede bly die bank daartoe verbind om die regering en gesondheidsorganisasies te help om te verseker mense in gemeen­skappe waar die bank teenwoordig is, ontvang die beste gesondheidsorg teen 'n bekostigbare prys.

“Gesondheid bly 'n prioriteit van die FirstRand Namibia Foundation Trust.”

Volgens die uitvoerende direkteur van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), mnr. Ben Nangombe, komplementeer die skenking die regering se pogings om Namibiërs van gesondheidsdienste te verskaf.

Hy het beklemtoon die ministerie is vasbeslote om een van die ­doelwitte van Visie 2030 – om gesondheidsdienste vir almal toeganklik te maak – ten volle te implementeer.

“Die ministerie is tans in die proses om die leemte in die verskaffing van verskeie takke van gesondheids­dienste te vul, wat tans nie by openbare gesondheidsgeriewe beskikbaar is nie,” het Nangombe gesê.

Hy het die Windhoek Sentrale Hospitaal met die nuwe masjien gelukgewens en personeel versoek om dit doeltreffend te gebruik en te bewaar.

Nangombe het die dokters ­verbonde aan die harteenheid lof toegeswaai, wat deur dr. Alfred Mureko verteenwoordig word.

Volgens hom het die dokters ondanks uitdagings daarin geslaag om hoë standaarde te handhaaf en was alle werksaamhede die afgelope jaar suksesvol.

Die harteenheid is in 2008 geopen en word deur plaaslike Namibiese dokters bestuur.

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer