Nuwe uitbreking van hondsdolheid vermoed
Die nuwe voorkoms van die siekte onder veral koedoes in sentrale dele van die land, voorspel niks goed nie.
Elvira Hattingh
Vrese bestaan dat 'n nuwe uitbreking van hondsdolheid onder koedoes en elande aan die kom is, nadat ongeveer ses nuwe gevalle sedert die begin van die jaar in Sentraal-Namibië aangemeld is.
Dr. Rainer Hassel, veearts en projekleier van die plaaslike koedoehondsdolheid-navorsingsprojek, het gister aan Republikein gesê nadat 'n nuwe koedoevrekte op 10 Januarie vir die eerste keer in vyf jaar in die Namatanga-bewaringsgebied bevestig is, is minstens nog vyf gevalle by hom aangemeld van koedoes wat vermoedelik aan die siekte ly.
Aanvanklik is vermoed dat die siekte nog net op plase in die omgewing van Seeis, Dordabis en Neudamm kop uitgesteek het, maar meer gevalle is intussen aangemeld.
“'n Tweede geval is intussen mondeling by my aangemeld van 'n koedoebul op 'n plaas in die bewaringsgebied wat klassieke tekens getoon het. Daarna is nóg 'n geval op 'n plaas in die westelike Okahandja-gebied aangemeld, gevolg deur 'n geval in die Omaruru-omgewing asook gevalle op twee plase naby Outjo.
“Vorige ondervinding het ons geleer dat uitbrekings van hondsdolheid gewoonlik nie by enkele gevalle bly nie, maar dikwels wydverspreid voorkom. Elande loop ook tans ernstig onder die siekte deur.
“Boere moet bewus daarvan wees dat nuwe gevalle van die siekte weer kan voorkom, veral daar waar die koedoebevolking ná die vorige uitbreking weer kans gehad het om te herstel. Hulle moet alle gevalle by die direktoraat veeartsenydienste aanmeld en waar moontlik monsters van diere waar hondsdolheid vermoed word na die Sentrale Veeartsenylaboratorium (CVL) stuur.”
Hassel sê die vorige uitbreking het in 2001 of 2002 ook in Sentraal-Namibië begin en vrektes as gevolg van die siekte is nog tot verlede jaar in die verre Suide en die Kalahari bevestig, terwyl hondsdolheid onder koedoes nooit vantevore in dié gebiede voorgekom het nie.
“Tydens die vorige epidemie het die eerste gevalle naby Windhoek en Okahandja voorgekom en in alle rigtings versprei. Dis egter moeilik om te sê hoeveel koedoes landswyd aan dié epidemie gevrek het,” het hy gesê.
Voorheen het dr. Piet Basson, bekende afgetrede veearts van die Grootfontein-Tsumeb-omgewing, gemeen tot sowat 70% van die land se koedoebevolking vrek tydens so 'n hondsdolheid-epidemie.
Hy het toe gesê Namibië is die land met die meeste koedoes en tydens die eerste epidemie wat in 1976 tot 1986 voorgekom het, het tussen 30 000 en 50 000 koedoes gevrek. As die verlies in vleiswaarde omgeskakel word, is dit sowat N$100 miljoen. Boonop ly die trofeejagbedryf ook groot verliese weens die siekte.
STUUR MONSTERS
Hassel vra dat boere vermoedelike gevalle van hondsdolheid aanmeld en monsters na die CVL aanstuur.
“Dit is belangrik dat ons soveel gevalle as moontlik bevestig kry en ook soveel virusmateriaal as moontlik insamel vir verdere navorsing – nie net vir koedoes en elande nie, maar ook vir jakkalse, ander wilde diere en lewende hawe. Ek weet dit is soms moeilik omdat 'n mens afgeleë woon,” het hy gesê.
In die Namibië Landbou-unie (NLU) se jongste nuusbrief, word boere aangeraai om die hele kop van die geraakte dier by die laboratorium af te gee.
“Die kop kan in 'n sterk vullissak in 'n koelboks vervoer word. Die beste is om vars monsters te stuur, maar 'n nuwe metode bestaan ook om toetse te doen op monsters wat 'n paar dae oud is,” lui die nuusbrief.
“Tref voorsorg voordat jy met die dooie dier werk deur handskoene en 'n masker te dra om besmetting te voorkom. Boere moet ook die laboratorium inlig op watter plaas die dier gevind is, wie die eienaar van die plaas is en benodig ook inligting oor wat die simptome van die dier was.”
Vir meer inligting of vir hulp met die aflewering van 'n monster by die CVL, kan Hassel by 061 290 9331 of [email protected] gekontak word. Andersins kan dr. Jolandie van der Westhuizen by die CVL by 061 237 684 geskakel word, of 'n faks kan na 061 221 099 gestuur word.
Die CVL is in 24 Goethestraat, Windhoek, geleë.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie