Nuwe uitdaging by Safari Sewes gepak

Met sy negende posisie in Afrika bly Namibië ’n buiteperd – maar dié keer met Windhoek Draught se amptelike borgskap agter hom.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Grootskaalse veranderinge is aan die Namibiese sewesrugbyspan aangebring wat vandag na Kenia vertrek vir die aansienryke Safari Sewes-toernooi komende naweek in Nairobi.

Net drie spelers uit die twaalftal het oorgebly wat verlede maand by die Afrika-kampioenskap in Tunisië in die negende posisie geëindig het.

Afrigter Les Bougard het gister verduidelik dat beserings en eksamens vir die meeste van die gedwonge veranderinge gesorg het. So byvoorbeeld het die senter van FNB Unam, Camlo Martin, twee naweke gelede by die Day of the Dolphin-toernooi op Swakopmund ’n besering opgedoen, terwyl sy klubmaat Shareave Titus hom vanweë eksamens moes onttrek.

Die Kudus-duo Lloyd Jacobs en Chad Plato, wat van die beter individuele spelers tydens die Tunisië-toernooi was, moes onderskeidelik vervang word vanweë werkverpligtinge en die feit dat die jonger Plato-broer tans saam met die senior nasionale vyftienmangroep op hul November-toer in Europa is.

Gevolglik is kaptein Aurelio Plato, Daniel Bock (die nuwe onderkaptein) en die skrumskakel Carlton Stevens die enigste spelers wat van die vorige toerspan oorgebly het.

Die onttrekkings het egter die deur geopen vir die terugkeer van ervare sewesspanlede soos Tuna Amutenya, Nandivatu Karuuombe, Léan Stoop en Chess Lawrence.

Afrigter Bougard het ook op die knoppie van vier nuwelinge gedruk wat vir hul eerste nasionale sewestoer gekies is. Hulle is Paulus Hangula (vleuel van Rehoboth-rugbyklub), Nazume Swartz (losskakel van FNB Western Suburbs), Romanzo Lento (vleuel van FNB Unam) en Peter Diergaardt (flank van die Blou Bulle).

Diergaardt was vanjaar een van die voorste uitblinkers van die Namibiese deelname aan die Wêreldrugby Onder 20 trofee-toernooi in Roemenië wat van sy mees doeltreffende spel in die groot wedstryde gelewer het. Diergaardt vervang sy Blou Bul-spanmaat Oderich Mouton wat die vorige toer meegemaak het.

Die Namibiese spelersgroep:

1 Aurelio Plato (kaptein, Kudus)

2 Daniel Bock (onderkaptein, Universiteit Wes-Kaap)

3 Léan Stoop (FNB Wanderers)

4 Paulus Hangula (Rehoboth-rugbyklub)

5 Peter Diergaardt (Blou Bulle)

6 Dirk de Meyer (FNB Wanderers)

7 Nandivatu Karuuombe (Trustco United)

8 Tuna Amutenya (Trustco United)

9 Carlton Stevens (Kudus)

10 Chess Lawrence (FNB Unam)

11 Romanzo Lento (FNB Unam)

12 Nazume Swartz (FNB Western Suburbs)

Die span word deur afrigter Les Bougard, spanbestuurder Ryno Visagie en fisioterapeut Wayne Damons vergesel.

BROUERYE AAN BOORD

Die Namibië Brouerye (NBL) het gister aangekondig dat hy die volle koste van die Namibiese sewestoer na Nairobi borg. Dit sluit twee stelle wedstryddrag met wit en blou truie in, waarop Windhoek Draught voorop gedruk is.

Die NBL se toetrede sal verwelkom word deur die klaende lede van die rugbypubliek wat verlede maand so gefrons het oor die feit dat Zambië se sewesspan in Tunisië deur die Windhoek Draught handelsmerk geborg word, terwyl die borglose Namibiese span in ’n gebruikte stel o.20-truie gespeel het.

Die Namibië Rugby-unie (NRU) se president, mnr. Corrie Mensah, het gister by die aankondiging gesê die Brouerye het na vore getree en gewys dat hulle die sport en die spelers ondersteun, sonder om kant te kies in die rugbypolitiek in die raadsale.

“Die NRU het heelhartige waardering vir hierdie ruim borgskap deur die NBL. Die spelers besef hulle verpligting om die beeld van Namibië en die borg met die grootste omsightigheid op en van die veld uit te dra.

“Die NRU sal gesprekke met die Brouerye aanknoop en sien uit om gesamentlik ’n blink toekoms vir sewesrugby te verseker.”

Die NBL se besturende direkteur, mnr. Wessie van der Westhuizen, het die maatskappy se verbintenis beklemtoon om die lewe vir sportmense beter te maak.

“Die borgskap van hierdie toer is net ’n eenmalige ooreenkoms. Ons is bewus dat daar verskillende sieninge is oor die beste strategie vir die toekoms, maar dit is moontlik om uit te klaar en tot ’n vergelyk te kom.

“Die Brouerye se rekord van borgskappe in vele sportsoorte wys dat ons ’n voorstander van volhoubaarheid is.

“Ons is nie net ’n korttermyn belegger nie en ons sal graag die plan op die tafel wil sien wat Namibiese sewesrugby ook internasionaal kompeterend sal help maak. Ons besef dat so ’n ontwikkelingsplan tyd en hulpbronne en visie verg. Die sukses van ander rugbylande wys dat die seweskode krities belangrik is om spelers ten volle te help ontwikkel.”

In antwoord op ’n opvolgvraag oor die geldwaarde van die NBL se borgskap van die toer in vergelyking met die maatskappy se sportborgskappe buite die landsgrense, het Van der Westhuizen sy antwoord gereed gehad.

“Die Namibië Brouerye is ’n multi-nasionale maatskappy. Jy sal opmerk dat iPhones ook hier beskikbaar is – nie net binne die grense van Amerika nie. Die Namibiese mark is net só groot. Borgskappe is ’n manier om ons sukses in die buiteland verder uit te brei, waarvan die opbrengste dan in ons eie land teruggeploeg kan word.

“Die NBL se handelsmerke lê ons naby aan die hart en ons gebruik dit om vir mense geleenthede te skep om hul land internasionaal te verteenwoordig. Ons dring nie daarop aan dat Namibië hierdie toernooi moet wen nie ... net dat die spelers hul hart uitspeel en elke greintjie energie op die speelveld agterlaat.”

FORMAAT

Teen gister het die Namibiërs nog nie inligting ontvang oor hul loting of wedstrydprogram nie en het nog op die toernooi se organiseerders gewag.

Die Safari Sewes is nie net een van Afrika-sewes se mees gesogte geleenthede nie, maar het ook nasionale spanne uit Europa gelok.

Spanje is tans een van die gevestigde spanne in die HSBC Wêreldreeks, terwyl Portugal tevore ook dié status geniet het. Die twee buurlande sal beslis as van die gunstelinge in Nairobi aankom.

Kenia, Uganda, Namibië en Burkina Faso se nasionale spanne ding ook vanjaar mee, tesame met drie spanne uit Brittanje (Apache Sevens, Red Wailers en Samurai Sevens).

Kenia se kampioenklub Homeboyz en hul landgenote Morans, asook die Suid-Afrikaanse span Cobras voltooi die twaalftal spanne wat in die gesogte toernooi sal meeding.

Kommentaar

Republikein 2025-02-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 20° | 35° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 23° | 34° Ruacana: 18° | 36° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 37° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 17° | 21° Swakopmund: 17° | 19° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 20° | 35° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 18° | 35° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 16° | 30° Ariamsvlei: 19° | 34° Oranjemund: 15° | 23° Luanda: 26° | 28° Gaborone: 23° | 36° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 19° | 35° Antananarivo: 18° | 29° Lilongwe: 18° | 28° Maputo: 24° | 36° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 19° | 24° Durban: 23° | 30° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 17° | 28° Harare: 17° | 29° #REF! #REF!