Nuwe vissersboot bekend gestel
Nuwe vissersboot bekend gestel

Nuwe vissersboot bekend gestel

Die maatskappy wat die nuwe boot besit, sal ook 6,5% aandele in ’n nuwe visfabriek besit.
Leandrea Louw
Leandrea Louw - Die Mfv Ehanga Bay, ‘n treilvissersboot ter waarde van N$32 miljoen, is verlede week op Walvisbaai bekend gestel.

Die Ehanga Bay behoort aan Ehanga Operations (Pty) Ltd., wat gesamentlik deur Ehanga Holdings (Pty) Ltd. en Merlus Fishing (Pty) Ltd. besit word.

Prof. Hina Muashekele, voorsitter van Ehanga Holdings, het tydens die bekendstelling gesê Ehanga is vir eens en altyd reggeruk.

“Ná die mislukking van ons gesamentlike onderneming met Etale was ons versigtig om weer ‘n langtermynooreenkoms te sluit. Ehanga was vir meer as 20 jaar ‘n aandeelhouer in Etale en die hoofdoel was om in prosessering op land te belê, wat weer tot groei in langtermynwerkverskaffing moet lei.

“Hierdie twee doelwitte is bereik, maar dit was steeds ‘n mislukking, omdat Etale nie ‘n winsgewende onderneming was nie. Aandeelhouers het vir 20 jaar geen opbrengs uit hul beleggings verdien nie en Etale is in ‘n klimaat van swak bestuur en beheer bedryf.

“Ons het die water in 2014 met ‘n gesamentlike ooreenkoms vir ‘n jaar getoets, met ‘n treilervissersboot waarvan ons 50% en Merlus 50% beheer het. Dit het geslaag en ons het 20% van die vaartuig gekoop, wat N$6 miljoen werd is.

“In 2017 het ons die oorblywende 30% vir N$9 miljoen gekoop. Hierdie onderneming is sedert 2014 winsgewend en die aandeelhouers het ‘n opbrengs op beleggings ontvang. Ons het hierdie vennootskap met Merlus uitgebrei om ‘n langtermyn- samewerkingsooreenkoms in te sluit, wat wedersyds voordelig vir albei maatskappye is,” het Muashekele gesê.

Ehanga sal ook 6,5% aandele in ‘n nuwe visfabriek besit, wat teen April volgende jaar in werking sal wees. Die fabriek is op Merlus se perseel geleë en sal werksgeleenthede aan 350 mense verskaf.

Die minister van visserye en mariene hulpbronne, mnr. Bernard Esau, het by die geleentheid gesê houers van visvangregte moet ernstig raak oor beleggings in Namibiese visserye, en het verduidelik hoe ’n puntekaart vir die houers van visvangregte geïimplementeer sal word.

“As jy zero punte vir beleggings kry, sal jy nie ‘n viskwota kry wat met hierdie kriteria verband hou nie. Die dae van aansoek doen vir ‘n viskwota sodat jy dit kan verkoop, is verby. Daar is geen toekoms vir enige regtehouer wat nie in ons visserye belê nie.

“Wat ons puntekaartkaart betref, sal ek regtehouers evalueer in terme van die aantal en gehalte werksgeleenthede per metrieke ton van die kwota wat toegeken word.

“Ek moedig regtehouers aan om nie hierdie maatreël te sien as ‘n verpligting wat hulle dwing om meer mense in diens te neem net om meer punte te kry nie - selfs al verhoog dit koste. Veel eerder moet hulle reageer deur by waardetoevoegingsbedrywighede op land betrokke te raak wat meer werksgeleenthede vereis terwyl waarde toegevoeg word om koste wat hiermee verband hou, die hoof te bied,” het Esau gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!