Nuwe vooruitsigte vir jaers

Die klub het waardering gewys vir die rolspelers wat hom op 'n gesonde voet help plaas het.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Redline Motorklub het onlangs sy lede en sakevennote op 'n funksie by sy nuwe klubgebou in Windhoek vir hul lojale ondersteuning en bydrae tot motorsport in 2017 vereer.

Veral Vivo Energy Namibië met sy Shell V-Power-handelsmerk is Redline MK se grootste vennoot met N$500 000 per jaar wat sorg dat die Gobabis Cattle Country-tydren aangebied word.

Wilro Dippenaar van PZN Racing in die hoofstad wat vir die Shell V-Power-­span jaag, gaan vanjaar nie net met tydrenne besig wees nie, maar gaan ook in Suid-Afrika aan die Hot Rod-toer op ovaalbane meeding.

Sakevennote wat die Redline-klub 'n suksesverhaal help maak, is Shell V-Power met Johan Grobbelaar as besturende direkteur van Vivo Energy Namibië aan die stuur. Dan is daar Gunter Gladis (Hemco Paints), Dries Booysen (On Time Couriers, Gobabis), Jaco Redelinghuys (Gobabis Toyota), Stefan Labuschagne (Gobabis Auto Truck & Tracktor), Riaan van der Westhuizen (DD ICE, Windhoek), Dippies Dippenaar (PZN Panelbeaters), Gawie Koekemoer (Auas Motors) en Omateko Lodge net oos van Gobabis.

Omrede die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) die nasionale tyd­renkampioenskap 'n geruime tyd gelede gekanselleer het, was jaers en hul navigators slegs vir hul deelname en bydrae tot motorsport vereer.

Wilro Dippenaar en navigator Riaan van der Westhuizen (Shel V-Power, PZN Racing), Jaco Redelinghuys en navigator Dries Booysen (Gobabis Toyota/On Time Courier, Redco Racing), Welmie Kuhn en navigator Ronald Opperman, die broers Stefan en Lappies Labuschagne (Gobabis Auto Truck & Tractor) asook Joop Koortzen en navigator Wehan Meyer is vir deelname aan tydrenne vereer, terwyl Jandré en Wilro Dippenaar vir 'n Vasbyt-kompetisie 'n trofee ontvang het.

Trofees is aan Myer du Raan, Mirtle Vries, Johanna Cloete, Carlo Mauers, Wayne McLoud, Danie Steyn, Bertie Smit, Lappies Labuschagne, Jan de Jager, Thersius Biermann en Immanuel David vir hul bydraes agter die skerms oorhandig. Dié span is verantwoordelik dat byeenkomste seepglad verloop sodat die administrasie op datum is en belangrike uitslae en tye reg aangedui word.

Mnr. Dippies Dippenaar, voorsitter van Redline, het trots sake van dié klub met die lede gedeel.

“Dit is 'n voorreg om vandag hier te kan staan en almal in ons nuwe klubgebou welkom te heet wat ons ook nou amptelik inwy. Met ons algemene jaarvergadering is Riaan van der Westhuizen (ondervoorsitter), Bronwyn Kotze (sekretaresse), Mirtle Vries (tesourier) en Thersius Biermann (adviseur) as die nuwe bestuur verkies.

“Redline is in 2005 gestig, is 'n lid van die NMSF en ons ledetal word net elke jaar meer, want met jaers van Gobabis wat by ons aangesluit het, het ons seggenskap op die gebied heelwat versterk.

“Ons het met die 2017 Shell V-Power Cattle Country-tydren ongekende blootstelling gehad toe 'n uurlange program op DStv uitgesaai is en Kosmos 94.1 ons radiovennoot was. Twaalf deelnemers uit Suid-Afrika het ekstra oemf aan die byeenkoms verskaf.

“Ons is die enigste klub wat volledig toegerus is om tydrenne of enige ander byeenkomste aan te bied. Ons staan finansieel sterk, die nuwe klubgebou en alles wat julle hier sien, behoort aan Redline. Ons sukses sou sonder sakevennote nie moontlik gewees het nie en ons bedank elkeen van hulle vir hul bydrae, belegging en tyd,” het Dippenaar gesê.

Redline gaan vanjaar weer woeker met die aanbieding van adrenalienbelaaide byeenkomste. Onder meer word twee tydrenne (12 Mei op Otjiwarongo en September op Gobabis) beplan. 'n Vasbyt gaan naby die hoofstad uitdagings bied, terwyl Gobabis opnuut die gunsteling venue vir die eerste Gobabis Off-road Rally op 21 April gaan wees. 'n Sosiale skatte­jagdag word ook beplan wat 'n jaarlikse instelling gaan word.

Die tydren op 21 April by Gobabis is nie jou normale byeenkoms nie, maar word oor vier rondes van 160 km op 'n sirkelroete gejaag wat opwindende kykgenot vir toeskouers kan bied. Karre en motorfietse kan aan die wedren deelneem wat 'n groter speelveld vir entoesiaste skep.

Mirtle Vries, Lee-Anne Coetzee en Bronwyn Kotze is drie van die Redline-lede wat 'n “clerk of the course”-kursus gaan voltooi. Indien die drie vroue slaag, sal Redline oor ses ­gekwalifiseerde beamptes beskik wat voorbereidings vir 'n wedrendag kan tref.

Adrenalienvrate wat belangstel om op 21 April by Gobabis te gaan jaag kan met [email protected] of [email protected] kontak maak. Jaers van Botswana en Suid-Afrika kan Stefan Labuschagne by +26481 470 8200 kontak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!