Nuwe waterbeperkings geld

Die munisipaliteit se kategorie D-plan het vandeesweek in werking getree.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Verskeie waterbeperkings het sedert Maandag vir Windhoekers in werking getree.

Dit behels onder meer dat grasperke alleenlik met gryswater, oftewel gedeeltelik gesuiwerde water natgelei kan word, terwyl geen sproeiers toegelaat word nie en jy jou motor nie meer tuis mag was nie.

Dit volg nadat die Windhoekse munisipaliteit (CoW) op 1 Mei aangekondig het die stad ervaar ‘n ernstige waterskaarste en die waterbestuurplan van kategorie C na kategorie D geskuif is.

Kategorie C wys reeds op ‘n watertekort, terwyl die volgende kategorie in werking tree wanneer die situasie vererger.

Dienooreenkomstig het ‘n droogtetarief vir huishoudelike waterverbruikers in werking getree, wat beteken geen huishouding mag meer as 25 m³ of 25 000 liter per maand verbruik nie.

Die munisipaliteit sal nie meer afslag vir waterlekkasies bied nie en verwag van kliënte om op ’n daaglikse of weeklikse basis rekord van hul waterverbruik te hou.

Dit sal help om lekkasies vinnig en vroegtydig op te spoor en te herstel, meen die munisipaliteit.

Windhoekers word aangeraai om stopkrane toe te draai wanneer niemand in ‘n gebou is nie en wil hê openbare tuine en sportvelde moet met met slegs gryswater natgelei word.

Ander waterbeperkings sluit in geregistreerde karwasserye mag slegs 30 l water per motor gebruik, terwyl swembaddens in woonbuurte bedek moet word en nie met drinkwater volgemaak mag word nie.

Waterbesparingsmaatreëls moet ingestel word by openbare swembaddens en geen fonteine gebruik mag word nie.

Terselfdertyd mag bome, bosse en ander meerjarige plante slegs eenmaal per week met die hand natgelei word, terwyl blomme, groente- en gemeenskapstuine twee keer ’n week met die hand natgelei mag word.

In die wintermaande mag tuine nie tussen 09:00 en 16:00 natgelei word nie.

Geplaveide of geteerde oppervlaktes mag nie met water skoongemaak word nie, en beperkings op wasserye en die gasvryheidsbedryf sal geld.

Haarsalonne moet water spaar, terwyl gryswater optimaal in die boubedryf gebruik moet word.

Die hergebruik van water in besighede word ook aangemoedig.

In ‘n kategorie D-situasie is dit noodsaaklik dat minstens 15% water bespaar word. Dit beteken Windhoekers moet ’n maksimum van 465 000 m3 water per week gebruik.

In die 2018-’19-seisoen het Windhoekers 9% water bespaar, hoewel die teiken eintlik 10% was. Tog kon stadsbewoners sedert Januarie vanjaar nog nie eenmaal daarin slaag om teikens vir waterbesparing te haal nie.

Sowat 35% van Windhoek se water word weekliks deur NamWater voorsien, terwyl die Windhoek Goreangab Operating Company (Wingoc) deur middel van watersuiwering sowat 26% van stadsbewoners se water voorsien.

Die munisipaliteit sê sowat 39% van die stad se water kom uit die Windhoek-akwifer, hoewel dié persentasie verskil, afhangende van hoe groot die stad se vraag na water is.

Volgens NamWater se jongste damverslag van 1 Julie het die drie damme wat water aan die sentrale dele van Namibië verskaf sowat 17,7% water oor. Windhoek ontvang ook sy water van dié damstelsel.

Me. Lydia Amutenya, munisipale woordvoerder, het stadsbewoners onlangs daaraan herinner dat wetstoepassers boetes sal uitreik of watertoevoer waar nodig sal afsny wanneer die waterbeperkings intree.

Sy het ook gesê die munisipaliteit sal fokus op bewusmaking van waterbesparingsmaatreëls in skole en vir die publiek.

Sy het bygevoeg Windhoekers moenie rioolwater besoedel nie, omdat die suiwering daarvan tydens die huidige droogte noodsaaklik is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!