NVG wil op R50 mjd. se bates beslag lu00ea
NVG wil op R50 mjd. se bates beslag lu00ea

NVG wil op R50 mjd. se bates beslag lê

Stappe om bates van die omstrede Gupta-broers, wat met staatkaping in Suid-Afrika verbind word te vries, is wyd verwelkom.
Die batebeslagleggingseenheid van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) van Suid-Afrika hoop om op bates ter waarde van R50 miljard op beslag te lê in 17 sake wat met staatskaping verband hou.

Adv. Luvuyo Mfaku, woordvoerder vir die NVG, het Dinsdag dié inligting bevestig en verduidelik dat bewaringsbriewe ten opsigte van die Gupta-verwante maatskappye, Trillian Capital Partners en McKinsey, bekom is sodat bates van R1,6 miljard bevries kan word.

Dit hou verband met werk wat hulle vir Eskom gedoen het waarvoor geen behoorlike prosesse glo gevolg is nie.

Die Trillian/McKinsey-kwessie sal na verwagting binne enkele dae gefinaliseer word.

“Hulle sal 90 dae hê waarin hulle kan bewys dat hulle die bates behoorlik aangeskaf het. Indien hulle nie kan nie, sal die NVG vir ’n beslagleggingsbevel aansoek doen. Die geld sal in die bateherwinningsrekening gestort word wat teruggeploeg sal word in die stryd teen misdaad,” het Mfaku verduidelik.

Adv. Knorx Molelle, waarnemende bedryfshoof van die batebeslagleggingseenheid, het vroeër Dinsdag in ’n onderhoud aan eNCA gesê Trillian het sy bereidwilligheid aangedui om met die owerhede saam te werk. “Ons is vol vertroue dat ons binne ’n dag of twee die fondse sal terugkry wat weggeneem is,” het hy aan die televisienuuskanaal gesê. Hy het bygevoeg dat daar slegs as ’n laaste uitweg op bates beslag gelê sal word.

Intussen het Mfaku ontken dat ’n lasbrief uitgereik is vir die inhegtenisneming van Atul Gupta, een van die Gupta-broers, Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, en Peter Thabethe, hoof van die Vrystaatse departement van landbou. City Press het Maandag berig dat ’n lasbrief bekom is om minstens een van die Gupta-broers in hegtenis te neem.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Groep, het gesê as die beplande regsoptrede teen McKinsey en Trillian deurgevoer word, is die boodskap dat Suid-Afrika inderdaad nog ’n regstaat is ongeag hoe wankelrig dit is. “Ons moet dit koester.

“Vir enige vryemarkstelsel of -ekonomie om behoorlik te kan funksioneer, is dit uiters belangrik dat jy ’n regstaat moet hê.”

Volgens Roodt is nog ’n boodskap van die regsoptrede dat daar ’n baie groot verskil is in die wyse hoe daar in Suid-Afrika teen hierdie tipe misdaad in die staat- en private sektor opgetree word.

“Toe die Steinhoff-skandaal byvoorbeeld gebreek het, is daar letterlik binne ure opgetree om veranderinge in hierdie private maatskappy se direksie te maak.

Allerhande optredes en ondersoeke is binne dae aangekondig en die beweerde oortreders het onmiddellik en vrywillig bedank. As ’n mens egter kyk hoe lank die optrede teen McKinsey en Trillian geneem het en in ag neem dat daar nog nie eens begin is om die Eskom-debakel te hanteer nie, is die groot vraag waarom daar so gesloer word teen staatsinstellings. As staatsinstellings soos Eskom as maatskappye bedryf word, moet hulle ook onderwerp word aan die reëls wat private maatskappye reguleer,” het Roodt gesê.

Die korrupsiewaghond, Corruption Watch, het stappe deur die batebeslagleggingseenheid verwelkom, maar gesê dit is net die oortjies van die seekoei. David Lewis, uitvoerende direkteur, het in ’n verklaring vir Ramaphosa aangemoedig om ’n nuwe NVG-hoof sonder verwyl aan te stel omdat dit nie oortuig is dat “robuuste en bevoegde strafregtelike prosedures begin sal word terwyl die NVG deur Abrahams gelei word nie”. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer